Sewe Dae van Stilte
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6.

`n Sondaarsgebed van `n weggooikind

2 September 2010

Here, ek is maar net ‘n kindjie klein en ek staan magteloos voor U. Here, partykeer voel dit of U vêr van my af is, maar tog weet ek U verlaat my nooit. Dit is ek wat U verlaat.

Here, ek kom vandag voor U op my knieë en vra en smeek dat U my sal dra en lei, sodat ek voor U kan kom staan en kan sê met ‘n blye hart, - ek is U kind. Here, baiekeer doen ons goed wat ons nie van bewus is dat dit U seermaak nie. Ek vra dat U my sal vergewe. Here, ek weet ek vra so baie dat U my moet vergewe, maar dan gaan ek en ek doen dit weer. Ek is jammer!

U weet wat se seer ek het. Here, ek weet dat ek vir ‘n rede deur al daardie seer moes gaan en ek kom vandag voor U en ek vra dat U met my sal praat, sodat ek sal verstaan wat ek vir U moet doen. Asseblief Here, ek wil so graag net ander mense help, al is dit net om vir hulle te sê dat U bestaan waarlik.

Here… ek kom vandag met ‘n blye hart om te sê ek vergewe die mense wat teenoor my gesondig het, want ek wil nie meer daardie las dra nie. Ek weet as ek nie vergewe nie, hoe kan U my dan vergewe. Here, ek vra ook dat U my sal vergewe vir al die seer wat ek veroorsaak het. Verlos my van al my laste en help my asseblief dat ek ‘n beter mens sal wees.

Here, ek kom om U te vra dat U al daardie vingerafdrukke van my lyf sal afhaal, en al daai lelike geeste sal terugplaas waar hulle vandaan kom, want ek wil dit nie meer hê nie. Here, ek vra ook dat U al die laste saam met my sal dra, want dis te swaar vir my.

Here, ek weet ek het baie foute. U weet wat my hart se begeertes is, U weet wat ek nodig het en ek weet ook U sal dit vir my gee as ek reg is en U dink ek is reg, want U maak nooit foute met U kinders nie.

Here, ek weet nie waar om te begin om dankie te sê nie. U doen so baie vir my. Here, dankie vir al U wonderlike liefde, omgee en beskerming. Dankie dat U altyd by my is en my nooit alleen laat of in die steek laat nie.

Dankie vir kos en klere, ‘n warm bed en ‘n dak oor my kop, want as dit nie vir U was nie, wie weet… waar ek sou wees? U het my gedra deur al my swaar tye en U het belowe om my nooit te verlaat nie. Dankie daarvoor, Here. Ek aanvaar U as my Skepper, my Vader, my Man en my God bo alle gode.

Ek bid dit nie omdat ek dit enigsins verdien nie, maar alleenlik uit U Groot en Heilige Naam.

Amen 

Alle eer aan JaHshua, die Meester van alle Meesters

Dankie Meester JaHshua, dat U hierdie weggooidogter hierheen gebring het. Dankie dat U nooit opgee met U kinders nie. Dankie dat U die Filadelfia Ark Sorgsentrum opgerig het om U kinders wat deur die wêreld verag en vergeet is, veilige hawe te gee. Dankie vir U tasbare teenwoordigheid gedurende hierdie sewe afgelope dae. Amen.

 

(Die boodskappe van JaHshua is deur die Gees gegee aan Estelle Müller van Hartebeespoort.)


 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205