Sewe Dae van Stilte
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6.

 

‘n Nuwe seisoen het aangebreek.

1 September 2010

Deur die ewige, konstante getye van die see; veroorsaak soos julle reeds weet, deur die wisselwerking tussen My Adamah, Son (My ewige helende lig) en die Maan (My Wysheid en sagte liefde); ontstaan die kom en gaan van seisoene. Dit is belangrik dat julle die begrip verstaan aangesien in alles daar geestelike verborgenhede skuil wat van toepassing is in die alledaagse bestaan van my Adamah.

In My Woord bemoedig ek julle telkemale om antwoorde van die wonder van My Almag in die natuur te vind. Nimmereindigende wisselwerking wat reeds ontelbare eons besig is om tot op hierdie dag te kom waar julle nou is – en steeds na tyd en ewigheid sal Ek steeds besig wees om julle tot insigte te bring tot julle almal na My toe terugkeer.

Ek openbaar my goedheid aan hulle wat My in opregtheid soek. My vele geheimenisse maak Ek elke dag aan julle openbaar, maar julle dra oogklappe en is so vasgevang in sorge en jul verkniesing oor wat môre mag bring, dat julle vergeet om my geheimenisse reg voor julle oë te sien omvou.

Kom vra My, die Groot Ek Is, om My geheimenisse in die natuur aan julle te openbaar. Niks bestaan wat nie reeds bestaan het nie. Elke wisselwerking, van die kleinste tot die grootste het Ek haarfyn beplan. Kom vra My om julle te gaan wys hoe dit was toe ek met My hand die hemel ligte in perfekte orde die ewige lig ingegooi het. Kom sit by My en vra My hoekom Ek so lief is vir ‘n seekoei?

Job, My dienskneg het dit verstaan toe hy met My geworstel het. Hy het diep begeer om hierdie wisselwerkinge te verstaan. Hy het deur sy potskerf-ashoop-allesverloren-winter uiteindelik ook die wonder van My natuur verstaan. Hy het verstaan wat Ek vir julle probeer leer.

Kom sit by My dat Ek jou kan vertel van al die geheimenisse van die mier wat self dieper insigte het in die wisselwerking van die seisoene as hulle waarvoor Ek alles gemaak het.

Sonder seisoene kan julle nie die groei waarneem met die blote oog nie en sou julle ook nie so maklik besef het dat in My Almag ek ook beskik het dat plant en dier nodig het om in My rus te gaan.

Die winter wat op die Suidpunt van Afrika gebeur is met ‘n doel lelik, swart en dor. Ek het dit so gewil sodat julle die groei en nuwe lewe van my beloftes kragtig in werking kan sien.

Die geestelike seisoene loop nie noodwendig hand aan hand met die fisiese nie, en sommige van julle voel dat julle van jul geboorte af reeds in die winter sit. Dit is onwaar. Julle het bloot so diep gedaal in die donker, dor, swart verbrande put, dat julle vergeet het om al die wonderlike nuwe lewe wat Ek stuur raak te sien. Seisoene kom en gaan voortdurend – waak en bid dat julle bedag sal wees om die eerste tekens en belofte van ‘n komende nuwe begin en nuwe lewe sal kan raaksien wanneer die vyebome begin bot. Deur loutering van vuur en pyn alleen kan nuwe lewe uitspruit.

Het jy al een oggend opgestaan en verstom na jou asem gesnak – want, skielik toe jy dink dat jy vergeefs op die lente wag, het Ek in die nag, terwyl jy gerus het, miljoene groen blaartjies en pienk lente blommetjies laat uitspruit sodat My geknakte riete nie breek nie. Sou jy al hierdie wonderwerke en beloftes van nuwe lewe so sterk kon ervaar, sonder die winter?

Ek Is, openbaar Myself op sovele geleenthede en maniere aan julle, maar julle verseg om die Wysheid in ietsie so klein soos die mier te gaan soek. Julle soek wonderwerke, maar kyk My oneindige genade en liefde skoon mis – elke dag.

Kyk, Ek gee jou geleentheid om in hierdie lente, die vrug van jou arbeid te kan sien. Let op na die pienk bloeisels. Weldra verdor dit en val af – maar nie voor jou en My vrugte nie tevoorskyn kom nie. So sal Die Vrugteboer dan in die lente selfs verder snoei deur van die goeie bome se jong vruggies uit te dun sodat die oorblywende ander vrugte selfs beter, groter, soeter en sterker kan groei. As Ek dit nie doen nie, sal jou takke breek en jou vrugte sal nie voed nie, maar eerder die eter smaakloos en dor agterlaat. Laat die vrugte wat julle dra soet soos nektar wees, vol lewegewende sap wat oorvloedig vloei uit die skatkamers van My Liefde. Dit is nodig dat Ek van die vrugte sal uitdun – dit mag self vir die sterk lenteboom onregverdig voel, maar hou goeie moed en weet dit is nodig. Waak teen vrugte van geregtigheid en hoogmoed. Waak teen vrugte wat begerig is om te heers en eiebelang te soek. Soek nie om gedank en geprys te word oor die vrugte wat jy dra nie. My seisoene reinig. Pluk daardie vrugte uit voordat Ek verby kom en dalk die boom afkap.

Baie van julle het self en vrywillig aan julle boorde gesnoei. Dit is ‘n seer en pynigende proses en soms, wanneer Ekself in my boorde rondstap, en begin snoei, bly daar maar ‘n paar oënskynlike dorre takke oor. Op My bevel breek die lente aan en binne enkele oomblikke is jou takke oortrek met pragtige pienk bloeisels wat te kenne gee dat die seisoen draai.

Ek Is skenk uit My groot liefde vir julle ook soms ‘n geestelike ‘spring gety’. Julle opregtheid, aanbidding en toewyding aan My en My kinders wat wees, honger en koud verdwaal is, wel dan so geweldig op in My dat My seëninge en guns jou bestraal, omvou en verby vat. My groot liefde gee nou vir my kinders so ‘n ‘spring gety’. Strome van seën en oorvloed stroom oor dorre akkers en ontwaak die groen weivelde, waar My Lewende Waters ‘n verskroeide Aarde weer oprig. Kom, kom My lammertjies wat Ek so liefhet, kom drink van My strome van seën.

Julle het innerlike genesing en versterking nodig vir die tye wat kom. Kom. Kom na My toe. My Krag en Almag sal julle lei. My Krag sal jou onsienbaar maak – My Krag sal jou verlos – maar vir nou, sien die werking van My seisoene soos deur die oog van ‘n kind.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205