Swedenborg.JPG

EMANUEL SWEDENBORG - 1688 - 1772

Reeds tydens sy lewe geniet hierdie geniale Sweed groot bekendheid as wetenskaplike, staatsman, filosoof, teoloog en profeet. Hy skryf `n groot aantal wetenskaplike werke op talryke gebiede, soos die wiskunde, geologie, skeikunde, natuurkunde, sterrekunde, en ook oor anatomie, fisiologie, sielkunde en filosofie. Bowendien was hy aktief lid van die Sweedse Parlement. Hoe groot Swedenborg se belang ookal was vir die wetenskap, sy latere profetiese werke was van nog veel groter betekenis.

In 1769 het hy die volgende aan `n vriend gesê: "Alles wat ek tot dusver meegedeel is, beskou ek in vergelyking as van weinig belang, want dit word ver oortref deur die situasie dat ek tot `n heilige amp geroep is deur die Heer Self, Wie op die baQrmhartigste wyse aan my, Sy dienskneg, verskyn het in die jaar 1743, toe Hy my oog in die geestelike wêreld geopen het, en my in staat gestel het om met geeste en engele te verkeer, in welke staat ek nog tot op hierdie dag verkeer. Van hierdie tyd af aan het ek begin met die druk en uitgee van verskillende verborgenhede wat deur my gesien is of aan my geopenbaar is, oor die hemel en die hel, die toestand van die mens na die dood, die ware erediens van God, die geestelike sin van die Woord, behalwe nog vele andere belangrike sake, wat vir die saligheid en die wysheid bevorderlik is."

Om homself geheel aan hierdie verhewe sending te kon wy, wend hy homself na 1743 heeltemal af van die beoefening van die wetenskappe. Daarna het hy uitsluitlik nog teologiese werke geskryf. Dit bevat die leer oor die Nuwe Kerk, wat met die Nuwe Jerusalem in die Openbaring ooreenstem. Hierdie leer is volledig in ooreenstemming met die Ou en Nuwe Testament en onthul die innerlike sin van die woord in die Bybel.