Openbaring 51 deur Judith de Beer

Openbaring 51

16 Julie 2007 om 9h00

Omdat jyself, asook andere wat jou gereeld hieroor pols, meer wil weet oor die verskyning van Elia in hierdie eindtye, sal Ek `n bietjie meer lig oor hierdie onderwerp gooi.

Siende dat sommiges onder julle meer opgewonde is oor die verskyning van hierdie profeet, as My wederkoms self, sê Ek die volgende.

Hoeveel maal moet ek nog die belangrikheid van die goddelike ordes wat in alles en almal is, beklemtoon? Soos wat die liggaam in al sy dele noodsaaklik is vir die voortbestaan van `n volgende liggaamsdeel, om ten slotte as een lewende liggaam te kan funksioneer, netso is My hele skepping, in al sy onderdele van mekaar afhanklik. Huidiglik is elkeen van julle hier op aarde teenwoordig, om sy stukkie "legkaart", in My groot ewigheidsplan te kan vind; om hierna sy regte plek in te neem en so werksaam in sy of haar orde te kan raak.

Om terug te keer na een van My aartsengele, wat onder die naam Elia, as `n beliggaamde mens, `n spesifieke taak vir `n sekere tydvak kom verrig het, sê Ek, ja, hy sal in samewerking met meeste van die Ou Testamentiese sieners en profete, as ondersteuning behulpsaam wees by die moderne "martelare" van hierdie grootste onderdrukkings- en verdrukkingstydperk.

Daarom sê Ek aan die wat `n vermoede in hulleself huisves, dat hulle as die een of ander groot gees vir my werksaam in hierdie tye gaan wees: Raak eers kleiner as die nederigste kind, sodat julle vir My bruikbaar kan raak.





[terug]