Openbaring 50 deur Judith de Beer

Openbaring 50

15 Julie 2007 om 17h00

Ek is die alleen skepper van alle dinge. Vanuit homself is die mens nie in staat om die mees eenvoudigste, enkelvoudige sel of atoom te kan skep nie. Huidiglik onder die aanvoering van Satan, word My molekulêre boustene deur die wetenskaplikes, met arrogante brutaliteit in hulle uiters delikate oeroue vasgestelde ordes versteur en die daarvan vasgestelde intelligensies, word deur genetiese manipulasie heeltemal omvergewerp. Selfs die mens, die kroon van My skepping, word nie ontsien nie en menslike fetusse, word vir die oes van stamselle, onder die dekmantel van "alternatiewe mediese medikasies" gekweek. Die feit dat elke embrio, die oomblik met bevrugting, 'n lewende siel geword het, om ook as 'n volmaakte menslike wese sy weg oor die aarde te kan gaan, skeel hulle min. Alle ordes, of dit nou minerale, plante of die diereryk is, is huidiglik heeltemal versteur, en skaterend weerklink die hoonlag van Satan, wat homself weer bokant My heerskappy "probeer" verhef het. Hiermee saam lui die doodsklokke vir 'n verlossings- en beskawingsperiode en die gebeier van hierdie klokke weergalm oor die hele oppervlakte van die aarde en Ek self sal antwoord op die klaaglied van elke versteurde klein atoompie, wat vanuit My skepping opklink in My oor. Met 'n vernietigende oordeel, sal Ek hierdie aarde van alles wat onrein is skoonvee, om weer as 'n volmaakte gereinigde aarde, oor 'n lang vredes- en verlossingstydperk, aan sy doel te kan beantwoord, om weer as 'n gesuiwerde, rein opleidingsplaneet vir My toekomende kinders te kan dien.





[terug]