WAARHEID = LIEFDE, LIEFDE = WAARHEID

Liewe vriend 

 

Waarom stel byna geen mens meer die belangrike vraag; wat is waarheid, en is ek self in die besit van die waarheid nie? Wat is die waarheid?

Die wêreld is vrot van geweld en misdaad en oneerlikheid, en almal vra wat kan nou gedoen word, ons kan dit mos nie duld nie, so kan dit nie langer aangaan nie. Maar hulle mis die hele punt. Al wat ons sien in die wêreld is die simptome van die gebrek aan liefde, wat vir ons duidelik wys wat die fout is, maar hulle sien dit nie so nie. Ons dink mense moet net almal 'n werk kry, dan sal dit beter gaan, mense moet net geleer word van respek en dan sal dit beter gaan, die regstelsel moet net die doodstraf instel en dan sal dit beter gaan. Dit sal ook nie help nie. Die wêreld is verby die omdraaipunt, onherroeplik kry die duisternis  (afwesigheid van liefde) die oorhand, en dit alles word toegelaat omdat ons Hemelse Vader die mens totale vryheid geskenk het, vryheid wat die mens reg moet gebruik om te kies watter kant toe hy gaan: Na die kant van die liefde, of na die kant van die gebrek aan liefde. Maar die mensdom verspeel sy kans, die oorgrote meerderheid het al so diep weggesink, weg van die waarheid, dat dit al byna te laat is vir hulle om op die regte weg te kom. 

 

Die ergste van alles is, selfs die mense wat kerkmense is, wie vlak voor die waarheid staan, is feitlik almal blind vir die waarheid. Kerke is aan die val weens verskeie redes, maar die kern daarvan is omdat die leiers en dosente en leraars nie die volle waarheid verkondig nie. Die meeste is self geestelik blind, blinde leiers van hul medemens. Hulle soek nie die waarheid nie, omdat hulle dink dat hulle reeds die waarheid het. Sommige plaas die klem op die tug en die oordeel. Ander plaas die klem op die verlossingsboodskap van Jesus se kruisdood. Ander verkondig hoe belangrik dit is om jou tiende te gee. Sommige sweep mense se emosies op allerlei wyses op.  Sommige probeer dit mooi balanseer en verkondig 'n kombinasie van bogenoemde. Sommige probeer regtig in alle opregtheid hulle bes, maar hulle het nog steeds nie self die verbinding met waarheid gemaak nie. Hoe kan ons dan die verbinding maak en uiteindelik tot die waarheid kom? Dit moet gesê word dat daar oral nog maar net 'n dun draadjie deurloop, wanneer die gebooie van die liefde tot God en die naaste aangeleer word, dat hierdie swak glimpsie van die stukkie onderrig egter ruimskoots voldoende sou kan wees om tog die waarheid vir die mens toeganklik te maak - omdat die nakoming van hierdie gebooie van die liefde ook die inwerking van God in die mens verseker, en dan word die mens van binne af onderrig en is hy dan sekerlik goed in staat om te onderskei wat waarheid en wat dwaling is.

 

Die Liefde Self het na die aarde gekom, en het aan die mense op aarde die enigste begaanbare weg getoon. Hy, Jesus, het onderrig gegee en Self Sy leer gestalte gegee, deurdat Hy die weg gegaan het wat alle mense moet gaan om tot Hom te kom. Dit is die weg van die liefde.

 

Die belangrikste gebod, die gebod van die liefde, word oor die hoof gesien - en bly sodoende onvervuld. Om Sy gesproke Woord geestelik te begryp, vereis 'n werksaamheid van die gees in die mens. Dit stel 'n verligte denke voorop en dit weer 'n lewenswandel geheel na Sy Wil. Hierdie lewenswandel bestaan egter nie in die vervulling van kerklik opgelegde gebooie nie, maar enkel en alleen in die vervulling van Sy gebooie, die gebooie om vir Hom lief te hê en om die naaste lief te hê.  Dit is al manier om Sy Woord te ontvang. Sy Woord is nie dooie woorde op 'n papier nie, Sy Woord is 'n nimmereindigende uitstraling van Sy Liefde en Wysheid wat na die geestesvonk in jou siel stroom. Jy kan dit net ondervind wanneer jy in liefde leef, en deur jou lewe in liefde jou siel omskep tot 'n geskikte houer vir Sy Gees van Liefde, Wie dan by jou sal kom woon. Dit is die ware wedergeboorte.

 

Wie Jesus se volgeling wil wees, moet Hom navolg soos Sy apostels. Hy moet lewe in onbaatsugtige naasteliefde, omdat sy gees in hom sal ontwaak, omdat hy deur die liefde die verbinding met Hom aangaan en hy dan deur Hom Self onderrig kan word soos daar geskrywe staan: "U moet almal deur My onderrig wees." Sy Gees sal jou dan in die waarheid inneem en eers dan kan jy Hom ook op aarde verteenwoordig. Die weg na waarheid word al lank deur Sy ware boodskappers verkondig, ook in Jesaja 58:7-10.   " ...dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag..." 

 

Hoe moet "Gees" verstaan word?   Die Liefdesvonk van die Vader in ons, wat Hy na ons harte gestuur het, is alreeds in ons. Hy moet tot lewe gewek word in ons siel, en dit kan net gebeur deur 'n lewe in liefde.  "...en omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van Sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: Abba! Dit beteken: Vader!" Gal 4:6.  

Ons moet die Gees in ons laat ontwaak deur 'n lewe in liefde, soos Jesus vir ons gewys het, en Sy Gees sal jou dan in die waarheid inneem en dan kan jy Hom ook op aarde verteenwoordig. Joh 14 bevestig die waarheid.   

 

Waarlik, niks in die mens is waar nie, behalwe Liefde! Net die Liefde kan ons red. Hier staan die waarheid nou vlak voor ons. Maar dit word eers werklik, in die hart en verstand, wanneer ons onsself omskep tot liefde, deur tasbare dade van liefde aan ons naaste. En dan is ons gered deur die Liefde. Dit is Ons Vader Self. 

 

Ons Vader is die Liefde, daarom verwag Hy beslis nie dat ons maar alles net willoos moet aanneem wat vir ons aangebied word as die waarheid nie. Hy moedig ons aan: Beproef, en behou die goeie.   Maak dus self seker dat dit wat hierbo geskryf staan die waarheid is, beproef dit deur Sy gebooie voluit na te volg, en jy sal dan self weet.   Die waarheid word bevestig by www.nuweopenbaring.co.za    Beproef dit self.  Die siel smag na die waarheid.

 

Liefde 

Ernst

 

prosper.ernst@icon.co.za

www.nuweopenbaring.co.za





[terug]