Helder droom:Dit is in die eindtyd. Ons groepie is deel van ‘n reuse groot bemanning op ‘n reuse groot skuit. Ons as klein groepie, omtrent net 4 of 5, het gereeld saam geoefen as span by ons gewone bymekaarkomplek, ‘n eenvoudige klein afgebakende sitplek op ‘n reuse groot houtskuit. (Ek dink die skuit stel die aarde voor, asook al die geloofsrigtings). Ons oefen om te roei, hou kajuitraad, doen eenvoudige dinge en is soos kinders, ons aanvoerder is ‘n sterk en liefdevolle, sagte, groot persoon. Ons is soos kindertjies, swak en kleiner as die ander. Dit īs die eindtyd, en iets groots soos ‘n ramp het gebeur. Alles is in krisis. Groepe wat aan hierdie groot skuit behoort, kom bymekaar soos in ‘n reuse tent. Die groot skuit staan binne in die tent. Al die groepe staan opgestel langs mekaar. Almal het verskillende kerklike gewade aan, mooi versier, party het hooftooisels op, lyk soos katolieke. Ons groepie het net sulke eenvoudige boere klere aan. Almal moet nou saam sing aan die “Halleluja – lied”. Maar die singery kom nie op dreef nie. Ons groepie bly maar stil, ons wil die regte lied sing maar die hele spul sing verkeerd, hulle sit elke keer die verkeerde lied met ‘n “beat” in, dan vervaag die stemme en na die eerste paar herhalings van die woord “halleluja” dan stol die lied heeltemal. Ek herken ‘n paar ou mense van die NG kerk, my skoonpa is onder hulle. Hulle probeer maar kom glad nie reg of aan die gang nie. Al die groepe probeer aanmekaar, maar hulle is flou, iemand sê hulle moet die regte woord sing, maar hulle kom nie reg nie. Daar is ‘n flambojante leier van ’n “smart” geklede groep reg langs ons. Hulle lyk onbekend, dit is nie ons mense nie, die leier is grootmond en hard. Sy oë lyk donker en dood, sy gelaat is ook effens anders, sy gesig lyk vir my soos ek dink Judas sou gelyk het. Hy praat maar hy misbruik Jesus se Naam as jisis, as ‘n vloekwoord. Ek praat hom direk hieroor aan, en sê vir hom wat die Naam beteken, hy mag dit nie so gebruik nie. Hy is vyandig en venynig teenoor my en ons groep.
Jesus word gekruisig, daar kom die kruisoptog verby. Ek weet Hy ly nou vreeslik, Hy voel eers ver van my want ek kan Hom nie sien nie, daar is ‘n lang breë skare wat saam met die kruisoptog verbykom. Ons hoor die geraas maar kan niks sien nie, al die mense is voor ons. Ek dink, ag Jesus, het ek tog genoeg gedoen, dit voel of ek amper niks gedoen het nie. Sy bloed is oral, op die kruishout en op die vloer. Sal ek tog standhou as ek U moet sien?
Al die mense is langs ‘n reuse afgrond, dit is ontsettende hoë kranse en daar baie ver onder is donker groen water, amper soos Kimberley se groot gat. Op plekke is daar heinings sodat mense nie daar afval nie. Teen die een krans is daar ‘n helder watervalletjie. Ons (deel van die massa mense) staan en toekyk en iemand spring af soos een wat selfmoord pleeg. Hy val hom dood, sy liggaam is stukkend en daar is bloed teen die kranse. Almal is geskok. Dit was die ou wat soos Judas gelyk het.
Ek sien ‘n swartman wat hom half dood geval het, dit lyk of hy net uit die lug uitgeval het,‘n boom het sy val gekeer maar hy is nie dood nie. Iemand anders (die res van die mense) dink hy is dood, maar ek sien hom, hy lê laag in die boom se takke, hy het nog bietjie lewe in. [Ek vermoed dit het iets te doen met die val van die swartes, hulle val verskriklik hard maar met die omskepping van die aarde hoef almal nie weer van heel onder in die materie-evolusie te begin nie. Ek is nie seker hiervan nie.]
Daar kom ‘n oproep, ek moet oor die afgrond spring. Die opdrag is van Vader. Hy verwag dat ek dit kom doen, ek het ‘n keuse maar ek moet dit nog doen as ‘n laaste toets. Ek gaan met rasse skrede na die afgrond. Ek beweeg doelgerig op die paadjie en trappies nader, maar ek is bekommerd, gaan ek stol en van vrees terugtree? Ek moet dit doen, ek gaan voluit. Met vaste beweging gaan ek die afgrond tegemoet, maar ek voel die angs. Ek dink dit is amper soos wat Jesus ook gevoel het. Ek voel iets van Sy doodslyding aan. Ek sou dit nooit kon gedra het nie. Ek gaan doelgerig nader. Ek vra waar is my vrou Martinette. Sy is nog op pad. Ek is bang sy gaan dalk kwaad wees as ek spring en ek is dood en ek het haar nie gegroet of eers gepraat nie. Daar is nie tyd nie, hier is die afgrond al voor my. Ek gaan, ek staan op die rots, ek voel die skurwe klip onder my kaal voete. Dit is duiselingwekkend hoog, geen mens kan dit oorleef nie. Maar ek spring en ek glo. Ek val en toe vertrou ek, U sal my vang. Die val is ver en blitsvinnig, ek sien amper niks, dis net ‘n “blur”, ek het geen beheer, maar ek het geweet, die volgende oomblik, nog voor ek die water doer onder tref, toe vat U my! Ek voel die sagte maar enorme Krag wat my heeltemal omvou, om my en dit vang my, my val word gestuit, die Krag is ongelooflik! Ek voel lig, die Krag lig my op! Daar is ‘n juiging van die mense, maar die grootste juiging is in my! Ek skreeu dit uit, die vreugdetrane loop vrylik, my hart wil ontplof van blydskap en liefde! Dit is U, ek het geweet U sal! U is die Een! Die krag lig my op en sit my weer bo, op veilige grond. Die vreugde en liefde is onuitspreeklik. Dit is U! U het dit die moeite werd geag om my te red! Die dankbaarheid is oorweldigend en onophoudelik. Ek is een van U span, deel van U! Dankie Vader Jesus! Ek het die stap geneem, maar U het my orals so gelei, van lank gelede af. My oorwinning in U krag en liefde is my span se oorwinning, al my mense, U mense, is nou veilig. Die krag en geborgenheid en liefde waarmee U my gevang het is onvergeetlik. Dankie Jesus!
Ek kom agter ek is wakker en die vreugde en liefde en dankbaarheid is nog in my. Ek voel nog die gloed van die krag wat my gevang en opgelig het. My liggaam voel nog lig. Ek wil net so lê en die heerlike gevoel van welgeluksaligheid geniet maar ek is bang ek raak aan die slaap en more oggend as ek opstaan het ek dalk vergeet wat ek nou ervaar het. Ek staan toe dadelik op, sien dit is 02:00 in die oggend, en haas my na my studeerkamer om hierdie woorde neer te skryf.
Ernst van Zyl