Openbaring 30 deur Judith de Beer

Openbaring 30

25 Junie om 16h30

In die wêreld van die leuen is ‘n leë illusie koning. Niemand in die oorkoepelende wêreldordes en instansies glo regtig in My of My waarheid nie. Ek is bloot vir hulle handig om My, as ‘n beheerinstrument oor die massas te misbruik. ‘n Verwronge skuldgevoel word deur baie wette in die mense gekweek en in “My Naam” word daar besluit wat is reg of verkeerd en die mensdom word daardeur soos ‘n klomp siellose outomate beheer. Ek, wat liefde is, word as ‘n monstergod van donder en oordeel, as ‘n beheermiddel gebruik en daar is baie wat die einde van hulle lewenspad met vrees afwag omdat hulle daarvan oortuig is dat Ek hul slegs inwag om hulle in ‘n poel van vuur en swael te werp en dit omdat hulle hier en daar versuim het om ‘n mensgemaakte wet te gehoorsaam. Daar is derduisende politieke instansies, opvoedkundige instellings, kerke en sektes, ja te veel om op te noem, wat almal met hulle duisendvoudige moets en moenies elke lewende skepsel op hierdie planeet soos in ‘n poppespel wil beheer. Die mens, ja die kroon van My skepping, het die vermoë om vir homself te kan dink en te besluit oor dit wat die waarheid is, bykans heeltemal verloor. Daar is baie wat nou manmoedig sal opspring, sy Bybel of een of ander riglyn sal gryp en baie verontwaardig en met ‘n bewende vinger sy “waarheid” vir jou sal uitstip, om maar net weereens daardeur te bewys dat hy géén vermoë besit om enige waarheid, oorspronklik vanuit homself, na vore te kan bring nie. So gebreinspoel is die mens dat hy nie eers agterkom dat hy ‘n dooie kneg van ‘n dooie letter, van ‘n wêreldwet geword het nie. Daarom sal slegs die een wat die Lewende Waarheid in homself dra, die vermoë hê om die waarheid uit elke leuen te kan haal en van die leuen sal daar niks oorbly nie, omdat die leuen op sigself niks is nie. Waar die een wat die leuen in homself huisves, weer nooit die vermoë sal besit om die leuen uit die Lewende Waarheid te voorskyn te kan bring nie, omdat dit onmoontlik vir die suiwer waarheid is, om die leuen in homself te kan huisves. Ek sluit hiermee af deur te sê, dat slegs die wat My Lewende Waarheid binne hulleself dra, die vermoë sal besit om die waarheid hierin te kan herken.





[terug]