PRAGTIGE GETUIENIS OOR DIE LIEFDE

Liewe vriend

Daar is 'n liedjie wat wyle Sias Reyneke geskryf het, miskien onthou jy dit nog. Die liedjie se naam is "Liefde is 'n stille rivierstroom. Die refrein wat ek kan onthou gaan so:

"Liefde, liefde is 'n stille rivierstroom, wat vloei deur ons woestynland. Droog die rivier weg dan sal al die klein vissies sterf..."

Die liedjie speel nou al vir baie lank in my kop en in my hart, en vanoggend toe tref dit my, dat Ons Liewe Vader, die Liefde Homself, speel Sy Lied van Liefde, Sy Ewige Woord van Liefde en Wysheid, die heeltyd, nimmereindigend, voortdurend vir ons. Dit is 'n uitstraling sonder ophou, maar dit is 'n sagte, stille rivierstroom wat net binne jou gehoor en gevoel kan word as jou hart en ore reg ingestel is, as't ware op die regte frekwensie is. Die frekwensie van liefde.

Ek wil jou so graag vertel hoe om hierdie heerlikheid te ervaar. Maak geen fout nie, ek is ook maar net 'n swakke mens en geen gelukkige uitverkorene wat nou uit die hoogte met jou praat nie. Ek is maar net so van swak vlees en bloed, maar wat ek nou deur die genade ontdek het, kan ek nie vir myself hou nie en ek MOET vir jou vertel. Dit is van kritieke belang dat jy asseblief moet kennis neem van wat ek nou vir jou vertel, omdat ek nou weet dat ons net een kans kry om as Sy kinders aangeneem te word, en dit is NOU, terwyl ons nog in die vlees lewe op hierdie aardbol. En binnekort gaan daar dinge rondom ons gebeur, deur liefdeloses veroorsaak, waaroor ons nie beheer het nie en wat ons in groot gevaar gaan stel, tensy ons reeds Sy Verlossing aangeneem het. Ons het minder tyd oor as wat ons dink. Ek wil tog niks aan jou verkoop nie en ek wil geen mag of voordeel vir myself verkry nie, ek staan maar net op my twee swakke beentjies en wat ek nou sien in my hart, die oneindige Almag en Liefde en Barmhartigheid van ons Liewe Vader Jesus, Koning van die Heelal, is te Groot om in te neem en laat my beentjies knak in swakheid, sodat ek fisies en in die gees spreekwoordelik op my knieë neersak en in stille dankbaarheid net dankie sê, dankie Vader, baie dankie Vader.

U Liefde is so kosbaar en so oneindig sag en heerlik en groot en lieflik....

Jy dink dalk nou ek is van my trollie af. En ek sê vir jou ja, ek is van my aardse trollie af, dankie tog!

Ek sê weer, ek het nie nou ontpop in hierdie wonderbaarlike geestelike wese nie, ek is maar nog steeds die ou klong wat soms snork as ek slaap en wat oorgewig is en wie se snor al gryser raak en wat skrik as ek rekenings in die pos kry en wat sondige gedagtes kry en wat foute maak. Maar hier skemer nou by tye sulke wonderbaarlike gloede van liefde en lig deur in my hart en verstand dat ek nie anders kan nie as om meer daarna te wil streef en ek moet net vir jou daarvan vertel! Hoe het ek nou by die Liefde uitgekom? Ek gaan jou die "bottom line" gee. Ek het dalk al vantevore dit vertel, maar ek gaan dit nou kortliks weer noem, en nou dink ek daar gaan dalk mense wees wat by hulleself gaan dink: "Nou hou hy hom weer heilig, met mooi gebakte broodjies van sy goeie dade en vroomheid. . ." Maar ek het besluit, gooi daai gedagte uit, ek noem dit by die naam want dit is van kritieke belang, ek kan met geen mooi omdraaipaaie by die bottom line uitkom nie, ek moet dit net reguit oordra.

My hart het begin versag deur liefde, deur mense wat in die nood oor my pad gekom het. Toe ek hulle 'n bietjie help toe raak die liefde vir hulle wat die naaste aan my is maar ook vir hulle wat my naaste is, vir almal om my, van binne af baie sterker. Vader Jesus het die ewige "wenk" vir ons gegee. Jesus is Die Vader Homself wat deur Sy verlossingsdaad, wat werklik plaasgevind het, die prys betaal het en die voorbeeld vir ons gestel het hoe om terug te kom in Sy Vaderhuis. En vir ons Sy liefde vir ons bewys het. Want waar is liefde wat groter is as die liefde van die een wat vrywillig sy lewe met pyn en vernedering vir jou aflê ? En Hy het vir ons die ewige "wenk" gegee, die gebod van liefde, liefde vir Hom en liefde vir ons naaste. Want Hy weet, dat as jy jou naaste onselfsugtig help, met sagtheid en barmhartigheid in jou hart, dan ontvlam die liefdesvlammetjie onvermydelik in jou hart, dit deurdrenk jou hele wese. Ons eie skrywer CJ Langenhoven was 'n man met diep insig, al was baie van sy spreuke tong-in-die-kies, het hy dikwels die spyker op sy kop geslaan. Hy het geskryf:

"As jy nie van iemand hou nie, doen hom 'n weldaad. Daarna sal jy hom liefhê." Aangehaal uit Spreuke van Langenhoven, Tafelberg Uitgewers,1988, bl.11. Hierdie is 'n enorme waarheid. As jy deur onselfsugtige weldade en hulp aan jou naaste jou hart versag, ontluik die Vonk binne jou wat Hy reg van die begin af in jou geplaas het, dit is die wedergeboorte van jou siel en gees. En die liefde, en die liefde alleen, verlig jou hart en verstand en jy sal glo: wat beteken om die waarheid in jou hart en verstand te sien en te ervaar.

Hoe kan jy die liefde tot jou naaste praktiseer? Ek kan nie vir jou sê nie, jy moet self maniere vind. As jy nie dink dit is die moeite werd nie, of dit om een of ander rede benede jou ag, dan kan ek jou nie oortuig nie. Ek kan jou net my erewoord gee dat liefde die enigste pad is, en deur praktiese, opregte dade van liefdebetoning, al is dit nog net op klein skaal, kan jy die liefde in jou hart wakker maak, en die liefde in jou hart kan die Vader herken, Wie Liefde is, en die stille rivierstroom van Liefde sal deur ons vloei.....





[terug]