BOODSKAP 20 en 21 AAN BERTUS HANEKOM OP SONDAG 22 SEPTEMBER 2013

BOODSKAP 20 AAN BERTUS HANEKOM OP SONDAG 22 SEPTEMBER 2013 OM 02H15

‘N BEVOORREGTE GESLAG
Kyk, My liewe kinders, julle leef in die mees bevoorregte en mees opwindende tye.  Net jammer dat meeste gelowiges se lewenstyl alles behalwe opwindend is; party huldig die standpunt: “Ek is nou eenmaal hier en sal my bes prober om dit te maak.” Ander leef weer met die vrees – gaan ek dit in hierdie eindtyd maak of nie?

Kyk, die lewe saam met My, Jashua kan ‘n voordurende avontuur wees, maar sommige gelowiges besluit om ‘n vaal, vervelige lewe te lei omdat hulle dit nie waag om op die snykant daarvan te leef nie.  As julle dit waag om presies te doen wat Ek, Jashua sê, is en sal jou lewe opwindend en vol pret wees.

Julle beleef nou die laaste groot hoera! Julle moet dit julle nou ten doel stel om alles in jul vermoë te doen om My planne op aarde te vervul.  Julle moet egter nie die dinge rondom julle vanuit ‘n natuurlike perspektief beskou nie.  Julle weet mos dat Ek, Elohey ‘n hand in die gebeure het en in beheer sal bly tot die einde toe.

My liewe kinders, hierdie laaste uur behoort julle bly te maak, nie hartseer, teneergedruk of bevrees nie.  Julle kan ‘n keuse maak; of julle kan soos uitgewaste lappe en vol vrees leef, of julle kan die pad nou saam met My loop, ‘n pad vol pret.  Dit is reg, ja – vol pret!

Geen geslag sedert die eerste geslag van die geskiedenis, het so ‘n unieke verantwoordelikheid soos die huidige geslag nie.

Die dinge wat nou in die wêreld plaasvind, is die geboortepyne, ja, dit is daardie tyd wanneer die baba gereed maak om die wêreld in te kom.  Julle leef nou in daardie tyd, daardie oorgangstyd van een era na ‘n ander en gelowiges (My volk) moet hulle daarop toespits om te leer hoe om waarlik te leef en hoe om oorwinnend te oorleef gedurende hierdie tyd van verandering.  Kyk, Ek Jahweh, rig vandag ‘n uitnodiging aan ieder en elk wat deel van My familie (Volk) wil wees om ‘n keuse te maak en ten spyte van jou omstandighede om nou betrokke te raak, selfs al het julle dit nog nooit tevore gedoen nie.  Moet julself nie blind staar aan die veranderings wat in die eindtyd gaan plaasvind nie.

“Daarom dan, terwyl julle so ‘n groot wolk van getuienis rondom julle het, laat julle ook elke las aflê en die sonde wat julle so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor julle lê” (Hebr 12:1)

Slegs jyself en Ek Elohey weet wat daardie laste is wat jy dra en slegs Ek kan jou verlos daarvan – as jy manmoedig en eerlik is om dit aan My te erken en My hulp in te roep.  Nou is die aangewese tyd om dit te doen.

Amen.
 

BOODSKAP 21 AAN BERTUS HANEKOM OP SONDAG 22 SEPTEMBER 2013 OM 04H50

SAL ONS PARAAT WEES

My liewe kinders, die vraag is, sal julle paraat wees vir die einstryd?  Ja, ‘n vraag soos hierdie is so aktueel soos nooit tevore nie. Kyk, daar gaan ‘n verwoestende uitwerking op My onvoorbereide volk wees en TYD begunstig julle beslis nie; die uurglas loop uit!  Julle gaan nie meer tyd kry nie en dit wat oor is, bevoordeel die magte van die duisternis.

Ja, dit is nou die tyd waarin julle die duiwel se wêreldwye aanslag sien plaasvind om My werk op aarde totaal uit te wis.  Dit is ook sy laaste probeerslag – en hy sal nie oorwin nie.

My vraag aan julle vandag is: “SAL JULLE OORWIN?  IS DAAR HOOP?”

Ja, daar is hoop! Vir My volk en julle land. Kyk, daar staan geskrywe: “ Op hierdie rots van My sal Ek die gemeente bou, en die poorte van die Doderyk sal hom nie oorweldig nie.” (Matt 16:18)

Ja, “Wie sal julle skei van My liefde – verdrukking of benoudheid of vervolging of...... gevaar of swaard?

Ja, My liewe kinders hier word daar van ‘n stryd, verdrukking en vervolging gepraat en dit sal my kinders nie gespaar bly nie, maar Ek, Elohey gee julle die uitkoms, die oorwinning verseker. NIKS sal julle skei van My liefde nie.  Dit is die hoop!

Julle vra of daar hoop is vir jul land? As die ongeregtigheid en die sonde, toeneem , ja, as die liefde van die meeste golowiges verkoel, sal My oordeel dan nie kom nie?  Of is daar hoop? Ja, vir julle land is daar hoop.  My oordeel sal oor elke land kom, tensy My volk tot bekering kom.

“En My volk, oor wie My Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My Aangesig soek en hulle bekeer van hul besoedelde weë, dan sal Ek uit die Hemele hoor en hulle oortredinge vergewe en hulle Aarde genees” (2 Kron 7:14)

My liewe kinders, die betekenis is duidelik.  My oordeel kan afgewend word.  Dit hang van My volk af.  Dit gaan nie hier in die eerste plek oor die goddelose wat tot bekering moet kom nie, maar oor My volk. Ja, skyngeloof en wettiese godsdiens moet plek maak vir waaragtige geloof.

Die toekoms van jul land hang nie in die eerste plek af van die aantal sondaars nie, maar van die aantal regverdiges.  Dit, My liewe kinders sien julle duidelik in die gebeurtenisse rondom Sodom en Gomorra.  Die oordeel oor hulle het gekom omdat daar ‘n tekort aan regverdiges was.

Ja, Ek Elohey het hulle (Sodom en Gomorra) se sonde raakgesien.  Ek kon die ongeregtigheid nie langer aanskou nie.  Die mense het losbandig gelewe.  My Naam is nie meer genoem nie, behalwe in vloektaal.

Lees Gen. 18:23. “Toe sê Jahweh: “As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad, dan sal Ek die HELE PLEK spaar  OM HULLE ONTWIL”

My liewe kinders, so ook met julle land.  My volk is verantwoordelik.  Ja, hulle sal die bepalende faktor wees tydens die oordeel wat wêreldwyd gaan kom.  Terwyl die gelowiges vir die goddelose moet oproep tot bekering, roep Ek, Elohey die gelowiges op tot inkeer en berou.

Dan sal Ek, Elohey die HELE PLEK vergewe OM HULLE ONTWIL.

Dit , My liewe kinders, hang van julle (My volk) af.

Amen.
 



[terug]