Woord aan Nalize, 2 Junie 2012

Woord aan Nalize, 2 Junie 2012
Hiermee gee ek opdrag aan jou, Nalize, om weer te skryf en elkeen se Weg met My Woord te verlig. Dit is tyd, soos Ek lank gelede reeds aangekondig het, vir julle om saam te begin staan teen die onheil van die gruwel van die verwoesting wat in My heiligdom kom staan het. Dit is voorwaar die vlees se behaging wat My tempels, die heilige wonings waarin julle siel woon, kom besoedel met allerlei behaaglikhede wat spruit uit wellus, sensoriese stimulasie en onverfynde sielgenot. Dit is afgodery in die hoogste graad. Wees tevrede met wat Ek julle gee om mee te lewe, hetsy pyn, ongemak of beperkings van watter aard ookal. Dit weerhou julle op die manier wat Ek weet die beste is, om die gruwel van die verwoesting in julle harte in te neem. Bly by My in die gees deur onophoudelike gebed. Bid nie net vir verligting van julle omstandighede, wat Ek wel sal toesien en voorsien as julle op My vertrou nie, maar bid vir die volk om naby aan My te bly. Ja,dit beteken dat die volk nie in weelde moet leef nie, maar met arbeid van die hoogste graad hulle gemak en rus sal ontvang. Arbeid van die hoogste graad behels die oopmaak van die hart om te bid in totale oorgawe vir Wysheid om sake te hanteer. Wysheid moet verkry word deur afhanklikheid van My. Op geen ander manier sal Wysheid jou weg verlig nie, slegs deur begrip van swaarkry wat deur Lig verlig word en begrip van Liefde wat alles oorwin en begrip van eensaamheid wat die siel skaaf tot uitverkorenheid vir ewige werk. Dit alles bring LEWE van Bo. Amein.
Wees gelouter as Ek jou kom besoek en jy sal My herken. Wees wakker as Ek verby loop en jy sal nie in ewige slaap verval nie, maar saam met My opstaan in die Lewe. Lewe dan reeds op aarde, deur die gebed van die regverdige te bid. Dit is n wyse lewenswandel in die Liefde. Amein.
Soek My in hierdie woorde en vind My in jou hart, waar Ek spreek met die uitverkorenes wat bloed aan hulle deurkosyne het, om nie te sterf in die nag van onheil wat nou neerdaal oor julle volk nie.
Met Liefde,
Jahshua, wenend van verlange na julle.
Amein.



[terug]