Abba Vader aan Judith: Openbaring 7

 

Openbaring 7

3 Junie 2007 om 7h00

‘n Paar kosbare geleenthede het verlore gegaan waar ons die geleentheid gehad het om ‘n gesprek tussen ons op papier neer te pen. Die mens is ywerig om My tot diens te wees en met allerhande beloftes wil hy in besit van die een of ander geestelike gawe kom. Wanneer My Gees van liefde, dan ook op hom of haar neerdaal, is hulle skielik lui en met ‘n duisend verskonings word die werk wat aan hulle opgedra is, nie gedoen nie.

Jy het gesoek totdat jy My stem binne jou gevind het. Wie My gevind het, het ook My volheid gevind. Dit wil sê wanneer Ek daar is, is Ek altyd daar. Waar en wanneer jy ookal die ore van jou hart open, is My stem daar, maar jy verkies om dit na jou eie goeddunke te onderdruk. Die behoeftes van jou liggaam kom altyd eerste. Meeste van die tyd onderdruk jy My stem vir iets om aan te peusel, dan weer kry jy te koud om uit jou bed te klim om jou skryfheboeftes te kry en so gaan daar kosbare woorde deur jou selfsug verlore. Nou weet jy wat Ek bedoel wanneer ek van my “lui knegte” praat, wat altyd ‘n verskoning het.

Vandag sal jy mense te woord staan en die boodskap wat jy aan hulle moet gee is dat hulle almal soekers is, hulle is soekers wat in hierdie tye ernstig na My soek. Ek wil ook dat hulle angstig na My moet soek. Met angs omdat die tyd min geraak het. ‘n Angstige mens soek altyd met haas na sy kosbaarste voorwerp. Soek My daarom haastig, want weer sê Ek aan julle: Die tyd is min. Vertel ook aan hulle om die digte gordyne wat voor die Allerheiligste plek in hulle harte hang, met geweld af te ruk. Almal soek My met erns, maar nêrens word daar vir My ‘n skrefie oopgelaat sodat Ek met My lig daardeur kan skyn nie. Ek staan lankal voor die deure van My uitverkore kinders se harte en klop. Maak vir my die deure van julle harte oop, sodat Ek na binne kan kom.

 





[terug]