Woord aan Nalize 20 TOT 30 MAART 2011

Stuk 31 – 20/3/2011

Ek as Heerser oor hemel en aarde roep na saliges en verlorenes om My te ondersoek. Kennis en Wysheid van My Wese is oral in die skepping te vinde. Hoe graag wil jy My leerken? Graag genoeg om al jou tyd en liefde so aan My en My sake te wy? Sekerlik is daar vele van julle wat dit wil doen, maar hoe lank is jy bereid om vol te hou daarmee? Is dit bloot ‘n gier of ‘n proefgroeityd soos die saad wat die Saaier saai groeibodem moet vind? Ja, maar as die bemesting goed was in jou aardbodem deur liefdesgebare aan ander, sal die resultate jou aanspoor om die saad te laat ontkiem in jou aarde en te groei. Jy kan weer en weer werk aan bemesting, maar as die saad eers eenmaal op dooie aarde geland het, sal dit met moeite anders daaruitsien. Ek wil dat julle My ken en liefhê en My geheime vind, want Ek wil dat julle met My verenig, daarom maak EK aan julle die maniere bekend om julle siele te veredel, dat julle ook heilig kan word, soos Ek. Amein.

Ek is Een. Ek is in julle en daarom kan julle liggaam, siel en gees ook Een wees in handel. Deurdat julle dieselfde keuses as Ek moet maak tydens My weg op aarde oorwin julle die skeiding tussen vlees en gees en vind julle die ewige weg terug tot die Skepper. Wees bly oor elke keuse wat jou weg belemmer of vul, want elke keuse bring jou nader aan My as jy reg kies.

Hoe kan jy weet of jy reg kies? Deur die Liefde tot My deur die naaste as riglyn te volg. Kies jy om te wees en te handel waar en hoe jy gemaklik is en rus vind of kies jy om ander rus te gee. Kies eerder die tweede opsie en dien jou naaste, want dit is Liefde. Amein.

 

Stuk 32 – 20/3/2011

Weer sal Ek spreek en julle aardes verlig, want net Ek het toegang tot julle siel om te spreek en veranderinge só deur inspraak te bewerk. Vele baat by ons gesprekke. Wees daarom bedag om dit gewyd te hanteer, want in die Gees is ons nie alleen tydens hierdie bestudering van My geheimenisse oor die Mens nie. Wees vredeliewend deur diensbaarheid en seën sal jou volg uit baie geestesryke. Amein.

Wees lus vir lankmoedige diensbaarheid en jy sal groei in vreugde. Wees ywerig met barmhartigheid en jou geloof sal versterk. Wees kragtig met geduld en Wysheid sal jou onderrig. Wees vol Liefde en sagtheid en jy sal lewe in My orde. Net Ek mag oordeel en besoeking doen. Wees daarom een met My Liefde en Barmhartigheid en jy sal die skepping met jou laat verenig by My. Amein.

Die diereryk en planteryk is vol afwagting om in hulle gekluisterde toestand My Wese te beleef. Slegs deur julle behandeling kan hulle dit vind. Daarom kan hulle praat as Ek dit gebied, want hulle behoefte om die ontheffing uit hulle gedwonge toestande te vind, is groot genoeg om hulle te laat groei na Lig. Die diere op aarde is onderhewig aan vele invloede, wees daarom bedag om met liefde oor hulle te heers en nie te bederf met vreemde lekkernye nie, want net Ek kan hulle heilig. Hulle kan hulleself nie reinig deur eie keuses en handelinge nie. Heers in My orde deur in ag te neem watter versorgingswyses Liefde uitdruk en daarby te hou. Onthou: Liefde sien om na alles wat daarmee saamleef en nie na die individu alleen se behoefte nie. Amein.

25/3/2011

Aan My Volk in die land van die Suide: Heg waarde aan My Woord wat Ek deur My knegte na julle toe laat stroom. Kyk na My in afhanklikheid en dank My vir elke dag wat EK julle gun om My opnuut te soek en te vind. Soek na My in julle harte en julle sal My vind as regverdige Meester oor al wat leef. Ek is Liefde en wil julle daarom van alles leer. Leer uit wat Ek aan My knegte gee om te skryf en jy sal die lesse in jou eie lewe ook verstaan. Wees bereid en gereed om aan te meld as Ek roep, want dit is in ‘n sagte stem wat Ek jou vra om iemand te help of ‘n daad van selfliefde te verruil vir ‘n gebaar van heilige Liefde. Wat is heilige Liefde dan op aarde? Dieselfde as oral in die hemelryk? Dit is om op niemand en niks neer te sien nie, maar om daarna of na hulle om te sien soos jy na jou eie sou omsien. Ek IS altyd bewus van jou hartsgesindheid, so jy kan niks vir My en My dienare wegsteek nie. Ek sal jou egter lei om heiliger en heiliger te leef, dit wil sê, die wette van Liefde na te kom, as jy My vra en toelaat. Niks is sommer net doenbaar nie, dit eis ‘n hart van oorgawe en wilskrag om dit uit te voer. Slegs deur daadwerklik lief te hê, sal jy vorder in eenheid met My. Wees nie lui nie, maar gebruik elke oomblik om daadwerklike liefde uit te oefen en jy sal lewe in die werklike, waar Ek skep en stuur. EK sal met jou wees in jou proses van wedergeboorte. Amein.

Dit is die ware doop, naamlik ‘doop hulle in My Naam’ – die van oortuiging om in MY Wil en orde te handel, nie na die eie wil nie. Amein. Ek, die ewige Liefde. Amein.

30/3/2011

 Vir My Volk: Die nuwe Jerusalem het neergedaal in julle harte en sal nie weer wegkwyn nie. Weer sal dit neerdaal om dié wat nie nou ontvanklik is nie, ook te verryk, wanneer die tyd reg is daarvoor, maar nou kan julle in geplaveide strate vol edelstene wandel, soos elkeen wat dit ontvang het al jarelank gedroom het. Die edelstene is in die harte van naastes, waar Ek woon. Wees vol Liefde en ontvang die seën wat gepaard gaan met My nuwe, neergedaalde Ryk. Ek IS Liefde in julle. Amein.

Stuk 33 – 30/3/2011

Weerhou julle van ydelheid, hoogmoed en selfverryking. Weerhou julle van alleentyd vir eie plesier, maar wy jou alleentyd aan My en Ek sal dit vir jou seën tot ‘n goeie oes en vangs. Kyk na die voëls van die hemel en sien hoe vertroue jou lei om oral en enige plek kos te soek en rus te vind in die wete dat ek dit sal gee soos Ek goeddink. Wees waaksaam om nie selfsugtig met gawes om te gaan nie en jou huis in die gees sal ruim word. Ek sal dit met Lig vul, sodat dit ander na jou toe sal aantrek en daaruit vloei die seën. Gedeelde gawes van mense wat leer om in Liefde te skep is die grootste seën in julle lewenswandel op aarde.

Wees getrou wanneer jy in ander se ‘huise’ ingetrek word. Wees getrou aan My, die Liefde, en bly My dank as Huisheer waarheen jy ookal gelei word. Deur in iemand anders se huis verwelkom te word, lei jy hulle jou huis binne en so word julle almal Huisbewoners van My en julle strate vol goud en edelstene, want niks sal julle skei van die Liefde. Amein.

Stuk 34 – 30/3/2011

Wie soek na uitkoms uit die duister waarin die aarde nou begeef word? Keer dan in jou binneste en weet – dis die enigste uitkoms in hierdie hele wye wêreld. As jy op enige ander plek wil uitkoms soek, sal jy alles behalwe dít vind vir jou siel. Ek sal jou verkwik as dit die begeerte van jou hart is. Amein.

Wie wil vlug en wie wil veg, ook dit is buite My. As jy by My skuil, sal die aanvalle gering wees op jou hart, alhoewel jou vlees ook die pad van die natuurlike weg saam met die res sal loop. Jy sal My as Rots en toevlug hê en daarom sal winde jou nie kan omwaai nie. Jy sal MY as vrypas hê om te lewe of te sterwe, soos EK wil vir jou en dit sal jou nie ontstel nie. EK is dan lewend in jou as wedergeborene en jou lewe (in die gees) sal nooit weer ophou groei nie, daarom sal jy lewe en nie sterf nie. Waak teen mismoedigheid, vrees en twyfel – dit vernietig vertroue en liefde. Amein.

Stuk 35 – 30/3/2011

Jy, elkeen van Myne, is bestem tot ‘n weg van kwelling wat lei tot groei. As dit nie die geval was nie, kon jy maar in die tuin van Eden geleef het, maar saam met Adam leef jy in kwelling as straf tot redding. Wees bly daaroor en vind MY in jou kwelling, want daarin lê jou redding. Amein.

Wees vurig om ander se kwelling te verlig deur in jou kwelling na My te keer. Dán sal jy die insig hê daarin om ander na My te rig deur My Krag te gebruik in hulp aan hulle. Só red julle mekaar van ‘n lewe in die woestyn van selfbevrediging, waar alles droog en bar is. Amein.

Vergetelheid is buite My. As jy ín My leef, is daar ‘n nuwe hemel en nuwe aarde vir jou om te bewoon en te bewerk. Hoe langer hierdie eerste aarde waarop julle woon bestaan, hoe verder dryf dit in die vergetelheid in, maar Ek GEE ‘n nuwe hemel en nuwe aarde aan dié wat My aanroep en gehoorsaam is. Amein.

Geen vrae wil Ek vra om jou te trek nie, want die vrae moet uit jouself kom om My te vind. As jy nie gesoek het nie, sou jy My nie kon vind nie. Amein.

Ek spreek deur hierdie kneg met elkeen wat bly soek na die Weg omhoog, want hoër en hoër sal julle vorder deur haar, wat oorgegee is aan My werk. Belowe jou lewe só aan jou naaste en Ek sê dieselfde van jou as getuienis, omdat jy van My en My werke getuig. Wees vol Liefde hieroor en bind jou tot My nederigheid en Ek sal jou ook ‘n pad van reiniging laat stap om jou vuilheid van selfsug weg te was. Amein.

Die roete hier bespreek is lank en moeisaam, maar EK kom elkeen tegemoet, soos nou. Amein.





[terug]