Openbaring 38 deur Judith de Beer

Openbaring 38

3 Julie 2007 om 10h30

Net soos wat julle mense nie uitgepraat kan raak oor die een of ander klein prestasie van julle kinders nie, net so is dit dieselfde geval met My, julle hemelse Vader. Die kleinste geestelike oorwinning wat met baie deursettingsvermoë en suksesvol deur julle behaal word, laat My Vaderhart so van liefde en trots swel, dat Ek summier van My hoogste engele, vanuit My enorme uitspansel na My toe ontbied, sodat Ek as trotse Vader hierdie nuus persoonlik aan hulle kan meedeel.

Die vreugde wat hierdie, My groot dienende geeste, by My opmerk, vervul hulle weer op hulle beurt met soveel vreugde, dat hierdie groot gemeenskaplike hemelse vreugde, ‘n geregverdigde feesmaal in my woning in die hoogste hemele regverdig, wat dan ook met hemelse feestelikheid geskied: O, die vreugde en trots van ‘n Vaderhart oor die oorwinning van ‘n kleintjie oor dit wat hy behaal het deur aardse smart!

Weet daarom My kinders, dat daar vanuit al My onmeetlike skeppinge, vir My geen groter vreugde kan bestaan as ‘n swak mensekind wat op hierdie aarde, sy eerste wankelende geestelike tree na My, Sy hemelse Vader, toe gee nie.