Openbaring 34 deur Judith de Beer

Openbaring 34

29 Junie 2007

Soos wat die hel in al sy vorme en woede hier op aarde los is, net so is daar meer as genoeg bystand vanuit die hemele vir die wat aan My behoort.  Daar is tans ‘n magdom mense vanuit die sogenaamde “room” van die aarde wat heeltemal onbetrokke teenoor My staan.  Geen erkenning goed of kwaad word aan My as die Skepper of Godheid betoon nie.

Vir hierdie geeslose mense is die menslike intellek wat in die hoogste vorm van die wetenskap manifesteer, die enigste godheid.  Juis omdat dit hierdie mense aan enige vorm van die gees ontbreek, maak dit hulle die ideale kandidate vir die in besitneming van die meer gesofistikeerde bose geeste vanuit die laagste hel.  Huidiglik is daar derduisende van die mees briljantste mense op aarde wat dodelik werktuie van Satan geword het. 

Hierdie werkers van die duisternis wat tans meedoënloos werksaam in hulle verskillende opdragte is, gaan vir júlle moeilik wees te identifiseer.  Hulle is fyn opgevoede, vriendelik en hulpvaardige mense wat oënskynlik alles in hul vermoë vir die welsyn en vooruitgang van die aarde sowel as vir sy bewoners doen.  Daarom vind jy hierdie mense dikwels elegant uitgevat by verskillende liefdadigheidsgesellighede.  Groot is hulle getalle by die sogenaamde “green peace” geleenthede, waar hulle as hoë profiel mense, besluite namens die massas neem, wat verreikende nadelige gevolge vir alles en almal het.  Dit sal júlle verbaas om te sien hoe vinnig die sagte vriendelike lig in meeste van hierdie oë plek maak vir ‘n meedoënlose koue glans wanneer die gordyne sak.

Aan My kudde hier op aarde, gee Ek egter die versekering dat daar baie goed voorsorg vir hulle getref is.  Alhoewel reïnkarnasie glad nie aan die orde van die dag is nie, is daar wel huidiglik sekere van My geeste wat vanaf die grondlegging van die aarde vir hierdie tyd voorberei is, om die mense te kom bystaan.  Julle sal graag wil weet of hierdie mense as gereïnkarneerde profete werksaam is en of hulle bloot werksaam onder die “ou profete” se geeste is.  Ek se egter aan júlle dat dit nie nou raadsaam vir júlle is om dit te weet nie.  Die tyd daarvoor is amper ryp, nou is dit vir júlle slegs nodig om te weet dat die meeste van hierdie beskermgeeste as mense wat nog self onkundig daaroor is, in Suid Afrika teenwoordig is.