10 Junie 2007 om 23h30
Wêreldwyd is daar ‘n beroering besig om plaas te vind. In sommige gevalle is dit ‘n onrustige voorgevoel van iets onheilspellend met rampspoedige gevolge wat wag om te gebeur. In ander gevalle is dit ‘n tintelende opgewondenheid oor iets ontsaglik wat op hande is. Ook in die natuur is dit sigbaar onder sekere spesies wat hulleself sku op een of ander bedreiging voorberei. Terwyl ander weer opgewonde en ywerig die vere regskud. Oral en in alles is almal besig om te ontslaap of te ontwaak. Ons gaan nou vir eers stilstaan by dit wat besig is om te ontslaap en wat in ‘n uiters treurige toestand van afsterwe is.
Die einde van ‘n lang verlossingsperiode is in sig en dit wat nie ‘n sekere rypheid bereik het nie, is besig om terugwaarts te beweeg tot waar dit ‘n punt bereik waar dit geestelik die eie geboorte verbysteek en sterf, om hierna tot in sy kleinste molekule tot niet te gaan en so in die illusie van materie te verdwyn, van waar dit weer tydsaam oor oneindige lang tydperiodes stelselmatig die weg deur ondenkbare siklusse sal gaan om eendag weer as ‘n voltooide mens “salig” in die een of ander orde werksaam te kan raak. Wat egter treurig oor hierdie toestand is, is die feit dat so ‘n skepsel die reg op kindskap vir ewig verbeur het.
Die ontwaking op sy beurt is bruisend en borrelend en energiek fluister selfs die kleinste atoompies “ons wil lewe” en met die liefde van ‘n moederhen skyn God se liefdeson op alles wat lewe, om dit met ‘n weldadige hitte tot nog meer lewe aan te spoor. Hierdie nuutgebore lewe, wek op sy beurt weer lewe, totdat dit begin ontbrand om self soos ‘n son te begin skyn in ‘n ewige onvernietigbare lewe, in die volmaakte ryk van My, julle hemelse Vader. Voeg julle daarom met haas, by die wat besig is om in die lewe en liefde te ontwaak.