Openbaring 13 tot 14 deur Judith

Openbaring 13

7 Junie om 05h30

Onder die woord “leviatan”, het die oermensdom die begrip van ‘n enorme seedier gehad wat in sy grootte ‘n kolossale eiland oorskry het. In ‘n sekere sin was hulle reg. Eens in die oertyd het so ‘n lewende organisme geleef wat amper soortgelyk aan ‘n lewende koraaleiland was. Dit het uit ondenkbaar baie individuele lewende see-organismes bestaan, wat saam een liggaam gevorm het. Omdat dit geen voetstuk of anker met die seebodem gehad het nie, het dit vry rondgedryf in die groot waters van die aarde. Met sy duisende tentakels en miljoene poliepe, asook ‘n onversadigbare vraatsug, was hierdie vir die onontwikkelde mensdom van daardie tyd die afskuwelikste monster. Hoe groot die tydspan vanaf die oertyd tot en met nou in die moderne tyd strek, kan enigeen wat goed in die wiskunde opgelei is, vir homself naastenby uitwerk. Die woord leviatan, het dan ook een van die vele name geword waaronder die Satan bekendheid verwerf het. Met ‘n bietjie verstand sal elkeen wat wil dan ook die geestelike herrysing van die leviatan in hierdie moderne tyd van die aarde herken. Met heerssug en die uiterste vorm van manipulasie het Satan sy tentakels stewig in elke regering en organisasie dwarsoor die wêreld gevestig en sy parasitiese poliepe voer sy opdragte getrou uit. Elke vrydenkende mens is bykans onlosmakend onder hierdie eenheid verkneg. Maar soos altyd in alles, oorskry Satan hom in sy eie perke. In sy grootheidswaan is hy besig om homself met sy enorme liggaam op te hef en trots sy bors teenoor My, die Skepper, uit te stoot. Maar helaas, daar waar dit die minste sigbaar is, daar doen hy ook die minste moeite. Elke goeie boumeester begin sy projek met ‘n stewige fondasie. Maar omdat Satan in alles My teenpool is, het hy sy ryk van bo na onder gebou. Sy voete het hy laastens en inderhaas in Suid-Afrika geplaas. Met sy baie onwyse vermenging van klei, kon die sement en metaal nie ‘n vaste, stewige mengsel vorm nie. Dit gaan die oorsaak van die val, van alle valle wees en met die laaste stof wat op die aarde sal neersif, sal my vrede op hierdie aarde neerdaal. En hiermee staan die visioen van My Profeet Daniël reg voor julle deur.

 

Openbaring 14

7 Junie 2007 om 12h00

O, hoe groot die blydskap van ‘n Vaderhart met die klank van kinderstemme wat gehoor gee op Sy stem na ‘n lang gewag. Hoe heerlik om die opstanding van My kinders te gewaar. My skape wat bokspring van vreugde by die roep van My Heilige Naam. Kleine kudde so sorgvuldig deur Myself gemaak.

So lank het jy bly swyg, maar trou het ek oor jou, my liefdeskind gewaak.

Met geduld het Ek bly wag om jou uit jou doodslaap te sien ontwaak,

om My liefde ewig binne jou vir alle skepsels te kan bewaar.

Uit die swartste nag word vir My die reinste kind gebaar.

Kom nou Sion, trek jou laer, ons is ewig bymekaar.

Klein kom jy voor My altaar staan.

Met leeuemoed gaan jy My weg deur wêreldchaos baan.

Voor wêreldkonings gaan jy trots My plek volstaan.

Voor jou sal die dood uitvlug en dapper sal jy alle vrees oorbrug.

Kom nou Sion, trek jou laer, ons is nou vir ewig bymekaar.