BOODSKAP AAN LUKAS VAN HOUT 26 AUGUSTUS 2013

Lukaas op 26.8.2013

"Skryf Lukaas skryf, die tyd is nader as wat julle dink. My volk moet weet dat in die begin van die waansin, smarte en vlug, daar 'n tyd van stilte van My, EK IS, sal wees deur diegene wat My woorde vir My volk gespreek en geskryf het. Dan sal daardie ander profesieë begin om in vervulling te gaan, wanneer My volk vlug na daardie plekke waar Ek vir hulle gekies het en van onder die volk uit sal My stem gehoor word deur diegene wie Ek op daardie stadium sal kies om vir My, EK IS, te spreek. In dié dae en in dié tyd, wanneer My volk gelei is na die plekke waarheen Ek hulle geneem het, sal Ek mans, vroue en kinders onder julle verwek en van hulle sal My Lig skyn en daar sal geen twyfel wees dat hulle deur My gestuur is nie. Van hulle wat Ek gekies het, sal woorde kom van groot troos, profesie, wysheid, onderrig en geregtigheid. In dié tyd sal My volk groot ontsag hê en verwonderd wees oor alles wat Ek vir hulle sal doen deur hierdie uitverkorenes van My. In dié dae en in dié tyd sal Ek ook diegene oprig wat My volk sal verdedig en sal hulle vervul met die felheid van die arend en die sterkte van 'n leeu en die spoed en vlugheid van die luiperd en so sal Ek diegene opwek wat vir My en My volk in dié dae en in dié tyd sal veg. Hulle wat Ek vir hierdie doeleindes voorbeskik het, is reeds onder julle, sommige weet van My planne vir hulle, ander sal Ek op daardie tyd laat ontwaak en soos wat Ek hulle laat ontwaak, sal My volk verstom staan oor diegene wat Ek vir My doel verkies het, want baie van hulle is bekend onder My volk as die geringste wat vir hierdie take gekies kon word. EK IS wat EK IS, Ek verander nie, ook nie My Wet of My geskrewe, lewende en gesproke Woord nie. "