Woord aan Nalize, 7/11/2011

Woord aan Nalize, 7/11/2011

Lof aan My is jou redding, mensekind. Daardeur ontvou jou hart en bied jy My die ere, tyd en respek wat My verhoog in jou lewe. Dink daaraan dat jy aan niemand anders lof bring nie, want dan plaas jy die moeite op jouself om getrou aan My te bly in verering. Moenie ander gode voor My aangesig hê nie. Amein.

Wees Liefde tot My deur jou naaste se behoeftes raak te sien, My te bid om hulp en die hulp wat vir jou moontlik is aan hulle te verleen. Geen mens sal in die uur van uiterste nood ondankbaar teenoor hulp staan as dit uit `n vriendelike hand kom nie. Amein.

Ek, Jahshua, is met elkeen wat van goeie wil is om hulle te help op die pad van selfverloëning. Wees bly as geleenthede hulleself voordoen waarin jy jou wese op die agtergrond moet skuif en ander toelaat om van jou tyd en moeite te vra wat hulle wil, want Ek beloon jou in die mate waarin jy gegee het. Jy sal ook geestelik groei in die mate waarin jy gegee het. Bly blymoedig, by My in die Liefde, en wees waaksaam dat jy nie jou hart se deur vir My toemaak deur vol teenstand `n nood te verlig nie, want dan verander die seën in `n las, wat langer neem om af te gooi as wat dit jou sou neem om die hulp te verleen. Ek sien alles en verleen My Krag aan die opregtes van hart wat hulle moeite wy in lofsang aan My. As jy vreugdevol is tydens die uitvoering van jou take, verpligtinge en hulp, nooi jy My om dit saam met jou te doen en die vreugde met jou te deel, want dit bring hemelse vreugde vir Ons beide. Maak My deel van jou lewe op elke manier. Amein.

Woord aan Nalize, 10/11/2011

Jahweh, die Losser van Israel, sal elke daad vergeld wat teen Sy Volk gedoen word. Onderdrukking en verdrukking is aan die orde van die dag, maar nie vir lank nie, want Ek sal weer My Volk laat lewe vir My. Dit behels tyd om lief te hê. Hoe anders sal Ek hulle siele voed. Liefde is die voedsel van die siel. Amein.

Wees bly om deel van My Volk se bevryding te wees. Wees opreg in jou liefde en jou siel sal gevoed bly vir lank. Ook wanneer stryd swaarkry bring, sal die mens lewe van liefde teenoor Sy Skepper en naaste. Wees bly as jy geleer het hoe om lief te hê. Amein.

Liefde is sorgeloos, maar verantwoordelik. Dit maak nie die ander seer, sonder om groei tot gevolg te hê nie. Liefde leef vir en in die oomblik. Wees bly in My Liefde. Amein. Weer alles van jou af wat negatiwiteit bewerk en sien alles uit My Hand wat jou inspireer en Krag gee as voeding uit die hemele. Hou jou daarmee besig, dan sal jou gees groei en lesse raaksien in jou daaglikse bestaan. Amein.

Jahshua, jou Maker, geniet jou soeke na ware liefde, want dit is net by Hom te vinde. Wees nooit moedeloos as jy gefaal het in `n liefdesprobeerslag nie. Wees bly dat jy My kan aanroep om hulp, krag en insig, want daaruit groei die Liefde. Amein. Met seën van Jahshua. Amein.

 

Woord aan Nalize, 11/11/2011

Jahshua spreek: Liefde is alles wat die mens nodig het om My mee te vind. In Liefde is respek, sorg, ontferming en dankbaarheid te vind. Liefde berei die weg vir wysheid in die mens se hart, en liefde maak vriendelikheid en vrolikheid moontlik. Laat liefde in jou groei en al die ander eienskappe sal ontwikkel tot My eer. Wees waardig om My engele se beskerming te geniet, deur na alles en almal wat minder het as jy om te sien met die vermoë waarmee Ek jou seën. Amein.

Word lewend in die werklike deur dag vir dag meer en meer met My te kommunikeer. Kies `n tyd van die dag vir afsondering om te fokus op My stem in jou binneste en al die vorme van dankbaarheid en nederigheid teenoor My. Wy dan die res van jou dag aan die uitlewing van die krag waarmee Ek jou gevul het, in geduld, liefde en sagmoedigheid. Word weer kind, met blydskap oor `n gawe van Bo, word weer opreg in opgewondenheid as jy sien jy is in staat om iets moeilik uit te voer en dank My dat Ek jou daarmee seën. Amein.

Wees altyd met My in jou lewenswandel en jy sal nooit beskaamd staan nie. Ek sal jou Hulp wees en jy sal My raadpleeg voor jy enigiets aanpak. Ons is lewe, Ek en elke skepsel. Sonder My is daar nie lewe nie. Ek gee die vonk wat lewe bring en as jy dit ontgin, kan jy lewe voortbring tot My eer. Amein.

Woord aan Nalize, 12/11/2011

Soos die dae aangaan, dek Ek die tafel vir My gaste op My Bruilofsfees. Almal wat met My in die huwelik moes tree, is nog nie gereed nie, alhoewel daar reeds bruide van My op aarde rondloop. Is jy onder die genooides of reeds met My getroud? Wees bly as jy enige van die twee is, want die ewigheid vol seën en skeppings lê voor. Jy is verseker `n liefling as jy naby aan My wil wees. Amein.

Waartoe is Ons saam in staat? Ek vertrou jou om nie nou al daardie antwoorde in besonderhede uit te deel nie. Jy is nog nie gereed nie. Waarop jy wel nou moet fokus, is die liefde tot jou naaste, want as jy My eers in jou hart gevind het, is naasteliefde die manier om saam met My te groei. Wees altyd beskikbaar om hulp of troos te verleen. Raad het sy tyd en plek. Amein.

Wees blymoedig in jou kontak met jou naaste. Als wat jy nodig het om te bemeester sal op jou pad gelê word deur middel van jou naaste en so slaag jy die geestelike lesse tot groei, want materie en wat die mens doen, het fisiese probleme wat die mens deur middel van die geestelike krag uit My moet oorkom. Wees nederig dat My Krag in jou kan standhou. Wees blymoedig dat wat jy beleef net van verbygaande aard bly. Om probleme op te krop is negatief en teen My orde. Water is die voorbeeld, waar daar eens baie is, is daar oor `n kort tyd niks, maar alles bly skoon, nat en vrugbaar. Amein.

Wees liefde in alles wat jy doen en jy word gelyk aan My, soos Ek dit bedoel. Dan kan ons saam regeer.