12 Maart 2011 Woord van Bo aan Nalize

Woord van Bo aan Nalize

1/3/2011

Ek, Jahshua spreek, mag elkeen se hart vol toewyding wees om My te vind in die midde van skares, want dít bring vreugde en Liefde, wat die hart verwarm.

Mag julle vol ywer arbei om die nederigheid in mekaar te ontsluit, deur te spreek uit die Liefde, want dit is water wat reinig. Ontvang die Liefde met Liefde. Wy die weë van diens aan jou naaste tot verlossing van jou siel uit die kluistering waarin jy gebind is.

Hoe sal jy dit regkry? Deur niks as jou eie te beskou nie. Nie jou eiendom, wese of tyd nie, want selfs tyd is Liefde en jou Liefde mag net aan My behoort. Ek is n jaloerse God wat wel besoeking doen oor die wat My haat EN Ek bewys barmhartigheid aan duisende van dié wat My liefhet.

Hoe beleef jy My Barmhartigheid? As vermeerdering van als wat jy JOUNE kan noem? Nee, dan is jy nie by MY, die Liefde, nie, want dit kan net sowel die haat-sy se loon wees na jou hartswens. As Ek Barmhartigheid betoon, verenig Ek jou met alles van My, dus ontvang jy meer en meer verantwoordelikheid om dinge te begryp, te versorg, te voed en te deel met jou naaste. Hoe meer jy My liefhet, hoe meer van jou lewe is Myne. As jy My uiteindelik só liefhet soos Ek My Vader liefhet, is nie eers jy meer jou eiendom nie, maar als vir die Vader deur My, die Seun, naamlik, Liefde. Amein.

Stuk 13 – 1/3/2011

Weer deel Ons Wysheid, Krag en Sterkte deur die Liefde. Is jou Liefde gedeeltelik of totaal gerig op My? Dink jy as Ek alles van jou vra, jy alles moet verkoop en met n beurs vol of sonder geld die weg vir My moet stap? Nee, die weg groei, net soos jy, daarom moet jy heeltyd voor die keuse staan om alles op te gee. Hóé gee n mens alles op? Deur dit te wy aan jou naaste. Elke behoeftige het meer reg op My eiendom as jy, wat klaar versorg is. Ek beskou elke behoeftige as n verlore seun en as Ek hom of haar oor jou pad stuur, het hy of sy na My (deur jou) gekeer. Hy of sy staan dan naak, gewalg deur varkpeule voor My deur jou om terug te keer tot die kindskap in die Koninkryk. Wees Ek, deur als waarmee Ek jou geseën het as Myne te beskou en uit te deel . Jy sal My Vreugde deel in die eindresultaat, al neem die siel heelwat tyd om vreugde en dankbaarheid eienskappe van die Liefde in die Koninkryk te toon. Onthou, hy of sy moet ook weer oefen daarin. Amein. Deur en in Liefde, Jahshua.

Stuk 14 – 1/3/2011

Die uur, die dag, die maand, die jaar van die einde vir jou aardse bestaan IS in My Hande. Ek is dít jou einde. Dit beteken Ek ontvang jou as jy ontvang wil word deur die Liefde Wy alles aan My en jy loop jou einde spoedig tegemoet. As jy eers daardie treë oorgesteek het, is alle lewe daarna hier of in die Gees, vervul met My en dus onverganklik. Jy het jou lewe gelewe tot jy dit in Liefde afgesterf het, dan leef Ek in jou as wedergeborene (jy). Kan jy dan nog foute maak? Ja oorvloedig, maar jy is Myne en als van joune Myne, daarom groei jy vinniger deur die gewete, tot My vlak van Liefde, want jy WIL. Jy kan enige tyd anders besluit en jou wil sal jou toegestaan word buite My. Die wedergeboorte is egter n onophoudelike ontwikkeling of groei tot die Hoogte (Ek). Dit is die hemel in jou. Leef altyd in die hemele en jy is die weerkaatsing van My Lig. Amein.

2/3/2011

Jahshua soek die aarde deur, deur die Gees, vir gewilliges om die mense die Weg te wys na hom. Niemand kan dit uit eie mag doen nie, maar slegs met Krag uit die Hoogte (Hart). Hoe is dit dan moontlik om geslagte behoue te laat bly en die Waarheid te laat vind?

Dít is die Krag en bewys van die Gees se teenwoordigheid in alle bestaan, soos die groei in elke lewende wese. Amein.

Stuk 15 – 2/3/2011

Julle, mensekinders, ís Godskinders as julle die Krag uit die Hoogte (harte) gebruik om te skep en te onderrig. Die skepping bly só suiwer en rein. Sonder My Krag skep jy in die duister, sonder insig in die voortbestaan van lewe. Jy skep vir die nóú en die self, en die krag om dit ewige waarde te gee, ontbreek. Ek wil My skepping help skep, daarom leer Ek julle hoe om My te vind en jou werke so na My te rig.

As jy in nederigheid enige taak opneem en bid dat Ek dit sal rig na My Wil en jy met blymoedigheid en ywer die taak uitvoer in diens van jou naaste, sal die taak n toonbeeld van Lig word. Jy sal kan terugstaan as dit voltooi is, want EK gee die Krag om dit te voltooi, en uit dankbaarheid erken dat dit nie in jou vermoë was om só n taak uit te voer nie. Elke gawe sal só ontwikkel, want gawes uit die Gees moet beoefen word om te bestaan. Ek sal jou lei as jy My vra, toelaat en jou deel doen. Amein. Met Liefde, Jou Jahshua.

Stuk 16 – 2/3/2011

Hierdie skrywe word gerig aan iedereen wat nodig het om werklike Liefde te beleef, elkeen wat nodig het om ewige rus deelagtig te word en elke kind wat nog moet ontdek hoekom hy nou alleen en verstoot voel.

Ek, Jahweh, Jahshua, alleen is die Magtige van Israel van ouds, maar ook van jou bestaan. As jy gewonder het of Ek dalk eenkant staan en toekyk hoe jy lewe Nee, My Kind, Ek voel jou gevoelens in My hart, soos jy dit ervaar, want Ek het jou as afsplitsing van My Wese gemaak en jy sal definitief niks ervaar, sonder dat Ek, in My Liefde, erbarming het daarmee nie. Wees besonder lief vir jou kinders, omdat hulle ook só deel is van jou en jy sal My gevoel verstaan. Niks is te erg vir My om by betrokke te wees nie, maar as jy jou hart verhard in sonde en nie My teenwoordigheid verlang nie, keer EK wel My rug op jou en laat jou begaan in jou oortreding vir solank jou sieleheil in jou voorspoed of ellende kan baat. As jy nie meer geestelik kan groei in jou sondige toestand nie, SAL Ek jou uitruk uit die brandende vuur waarin jy jouself gedompel het. Amein.

Moenie wag totdat Ek jou uitruk nie, open jou hart en jy sal vind dat Ek op jou Liefde wag. Ek verlang na jou tyd, soos n Vader en Moeder na hulle kind se tyd, in sy besige kinderjare. Eers wanneer die kind ouer word, sal die regmatige begrip en Liefde posvat. Amein.

Stuk 17 – 3/3/2011

Hierdie is die uur van verdrukking waarvan Ek spreek: Julle harte is die tweestryd tussen lewe en dood, julle liggaam die genadegawe om dit te deurstaan, julle hande die weg daartoe en julle hoofde die sleutel. As jy die verdrukking reg benader, het julle vrye toegang tot die ewige lewe by My, want daarom is jy op aarde geplaas om terug te keer tot My, jou Maker en eerste Liefde.

As jy die kans verspil, gaan die verdrukking vir jou geen ewige waarde hê nie. Jy is en bly nietig en as jy My vind te midde van al die wêreldse gewoel, pyn en lyding, sal jy Vrede vind in jou nietigheid, maar wel rigting hê. Ek stuur nie die swaarkry oor jou as n verdoemenis nie, maar om jou te help om die Lig te vind en daaraan vas te hou in die Gees. Amein.

Ek sal naby wees as jy My roep, Ek toets en deursoek die harte en sal die suiweres naby hou en die vervallenes verstoot, solank hulle voortgaan met hulle vervalle weë. Amein.

Wees nie vol wanhoop en vrees nie. Die verdrukking is so erg soos jou vervallenheid. As jy by My is en handel na My Wil en Werke, sal die vervallenes vir jou n bron van naasteliefde-werke word en jy sal versterk wees in uitvoering van jou geestelike gawes. Só sal die verdrukking vir jou n werksterrein en nie n pad van smarte wees nie. Ek is met jou, in Liefde. Amein.

Stuk 18 – 8/3/2011

Die uur is elke keer n besprekingspunt, die weg, die rigting van bespreking, die wysheid, die uitkoms en die liefde, die toepassing. In watter uur leef jy? Leef jy by My? elke uur of net in dié uur as ons daaroor praat? Leef jy met die uur voor oë of die uur as gewete? Leef jy met uitsluitlike geloof of wete in die uur se wrangheid op aarde?

Ek kom nou na jou om die uur vir jou op te helder. Die uur is Ek, soos Ek reeds verduidelik het. As jy kan praat van die uur leef jy nie in My tyd nie. Ons leef dan by mekaar verby, tot jy iets beleef wat jou uit jou eie tyd ruk na My. Ek is die uur waarin jy jou rigting vind, jou doel van die lewe vind én jou oordeel vind soos jy gegee het, sal jy beloon word. Ek is die uur in die ewigheid, waar geen tyd is nie. As jy die uur binnetree wat ewig bestaan, begin die ewigheid vir jou en hou nie weer op nie. Wees werksaam en wakker en vind die uur in jou waar Ek nooit verdwyn nie in jou hart, want Ek is Liefde. Dus is die uur waarmee jy verenig, die Liefde.

Stuk 19 – 9/3/2011

Ek, Jahshua, spreek tot al My Lieflinge: hoekom so vashou aan die wêreld met sy sorge, kom na My wat Rus gee. Dit beteken nie rus op jou louere en laat die sorg van die liggaam aan jou naaste oor nie, maar eerder: bid dat Ek sal voorsien en dank My dan vir elke sent wat na julle kant toe kom. Moenie enigsins dink dat jy geld gegenereer het nie, want as Ek nie die inkomste geseën het nie, het jy niks ontvang in die eerste plek nie.

Ek wil vir julle sorg as julle My só toelaat. Hoe werk die inkomste van goddeloses of ander wat my nie erken in die inkomste nie? Dit is heel eenvoudig die wyse van inkomste is gerig op die self en sodoende ook die uitgawes en daarom sal satan vir sy kinders sorg, dat elkeen meer het vir homself. As die uitgangspunt van die inkomste, die naaste is, sal Ek die een wees wat seën en dit gaan altyd met vreugde en Vrede gepaard. Wees nie suinig nie, maar deel alles wat jy het met jou naaste (die wat minder het as jy). Dan sal jy die hemele geopend aanskou bo jou, want alles wat jy ontvang sal n genadegawe wees. Amein.

Stuk 20 – 9/3/2011

Sien die voëltjies van die veld, die sterre aan die hemel, die sand in die see. Hulle gaan waar Ek hulle heen stuur. Wees daarom nie halstarrig nie, mensekinders. Neem die rigtinggewing van My kant af aan en jy sal weet waar jy moet wees. Ek sal jou altyd plaas waar ander jou nodig het, nie waar jy jouself kan bevredig nie. Ek sal jou omstandighede só verander dat jy kan ontwikkel deur diensbaarheid, al is jy n Koning oor honderd of duisend. Hóé jy jou naaste dien, sal bepaal hoe jy My gaan sien in jou laaste dag. As jy nie jou naaste gedien het nie, sal EK n tiran of heerssugtige Meester in jou oë wees en jy sal hard moet werk om die Liefde tot My in jou hart op te wek, natuurlik deur die diens aan jou naaste. As jy egter reeds op aarde daarin geslaag het, sal Ek vir jou n vriend en vertroueling wees in jou laaste dag, na wie jy vol hoop en afwagting sal wil kom, want Ons kan saam soveel meer doen vir die behoeftiges en siekes.

Daarom as jy My as Vriend wil ken, beoefen die werke wat Ek as voorbeeld gegee het deur die Liefde. Enigiets minder as dit sal geen goeie resultate vir jou siel lewer nie en jy sal vol misnoeë die ewigheid betree, wat volgens jou buite die hede staan en oordeel vervul. Ek is die oordeel, die tyd, die Liefde en die ewigheid. Verenig met My en jy leef en sal nooit die dood sien nie. Amein.

Vol Vaderlike Liefde deur die Seun, Jahshua. Amein.

Stuk 21 – 10/3/2011

My Volk, Vrou en geliefdes, heg waarde aan die tyd op aarde, julle gegun. Kyk na mekaar, sien om na mekaar, hou julle hande (werke) koesterend uitgereik en Ek sal julle seën met Eenwording. Dit behels harmonie, gawes en Liefde tussen My en julle en julle tussen mekaar. Niks is te veel gevra tussen hartsmense nie. Stap elke stukkie pad wat jou naaste jou vra saam met hom. Dring aan op gedeelde tyd dus Eenheid met My. Ag nooit die tyd wat julle aan mekaar spandeer te gering nie. Dit IS die grootste gawe wat julle mekaar kan gee, naamlik Myself en dit IS om Jahshua te wees vir elkeen om jou Jahweh verlos.

Ja, Ek verlos deur alles te wees wat jy nodig het, deur jou naaste en dis verseker elke oomblik iets anders. Veelvoude van 10, 100 en 1000? Hoofman oor 10, 100 en 1000? Hoe was jy daar vir jou naaste? Het jy nie ook te doen met 10, 100 of 1000 mense nie? Ja, so is jy op jou manier ook Ek vir jou naaste (deur My Krag, natuurlik). Ek wil hê dat jy net soveel in goeie dae as in nood iets moet wees vir jou naaste. Dít is werklikheid, dít is om die ewige engelwese in jou oop te vou en te leef, sodat jy dood nooit sal ken nie. Amein.

Ek ken jou, julle en die weë van die natuur. Laat geen natuurlike verantwoordelikheid of drang jou terughou daarvan om alles te gee as My verteenwoordiger tussen My kinders nie. Amein. Met ewige Liefde, van My as Vader aan julle (elkeen wat My aanneem).

Stuk 22 – 11/3/2011

Julle geliefdes, is My Hart en My Wese in een. Julle is in staat daartoe om aan My gelyk te wees deur bereidwilligheid, nederigheid en diensbaarheid. As julle egter vir eie gewin My Naam wil gebruik oor julle werke, moenie dat Ek in julle pad staan om Een te wees met My nie. Dit wil sê Ek laat dit nie toe nie.

Jy kan slegs een wees met My as jy My toelaat om jou te reinig tot n silwerskoon pand. Dan kan Ek jou dra en gebruik tot My eer.

Hoe kan jy die pyn van voortdurende loutering vryspring of aanvaar? Deur op te kyk na my, wat jou gemaak het en in dankbaarheid die Lig op jou naaste te loof. Moenie na jouself en eie situasie kyk of omsien nie, dan loop jy My mis. Kyk na jou naaste, fokus op versorging en jy vind My volkome. Amein.

In die dae van benoudheid wat voorlê, sal al hierdie ingeoefende vaardighede, jou ten bate strek. Jy sal die houe van die vyand die hoof kan bied deurdat jy die self opgegee het, soos EK wil en nie soos jou verstand jou voorskryf nie. Jy bestaan DEUR My, jy is nie n masjien of gebruiksvoorwerp soos n vloermat nie. As Ek deur jou lewe ís jy in staat tot wonderwerke EN enige hulp aan jou naaste, IS n wonderwerk want dit spruit uit Liefde. Amein.

Stuk 23 – 12/3/2011

Julle, Volk van die Suide, IS geroepe tot groot werke vir My. As julle by My in die Gees bly, sal julle duidelikheid oor elke plig en verantwoordelikheid behou. Wees ywerig en hou julle einddoel (die ewige lot) voor oë in elke hantering van mense rondom jou.

Ewig is ons saam in die ruimte waar Ek julle geplaas het. Wees vrolik oor elke sorg en las wat Ek vir julle dra. Hoe bereik jy as mens dit om n las aan My oor te gee? Deur nie op jouself te fokus nie, maar soos Dawid, My in al My vorme en werke te besing. Dan sal jy raaksien hoe ander deur My gevoed en geklee word en sal jy so die Lig se hitte ook in jou lewe raaksien. Fokus dus op dankbaarheid en sien om na jou naaste deur die self en die eie Ek af te sterf en hulle las te verlig, soos Ek joune sal verlig. Amein.

Die weë van die mens op aarde is onbekend aan sy naaste, maar EK sal die mens rig om die beste keuse, naamlik dié van Liefde te maak, ten spyte van die gevolge. Amein.

Hou My voor oë en jy sal nie sondig nie. Hou jou naaste se Liefde as doelwit en jy sal nie buite die Liefde handel nie. Leef só in My Ryk. Amein.