Woord aan Nalize 24 Februarie 2011

Woord aan Nalize

 

Stuk 5 – 24/2/2011

Jahshua, die Liefde in elkeen, sal lewend word as die wil van die mens na die Seun gerig is om Woord uit te leef. Wat behels dit?

Waarheid, vol Liefde, bring Lewe in die ewige sin. As die mens getrou bly aan sy skeppingsorde, naamlik om te onderhou, te versorg, te koester en mekaar se laste te dra, sal die suiwerheid van die Liefde in hom skyn. Die Liefde is die goue draad wat lewe bring. As jy in die Liefde handel wanneer jy 'n kind verwek, handel jy in die ewige orde waarin die nageslag na die Beeld van hul Maker kan ontwikkel. Buite dit met die skeppingsdaad, bring gruwels mee wat deur die arme geskepte slagoffers oorwin moet word. My bedoeling is die vrede van die Liefde. Amein.

Bly in My Ryk van die Liefde, deur jou te hou by die Woord van gehoorsaamheid aan die wet, soos op die kliptafels aan Moses gegee. Verder is die riglyne aan die Volk in die Skrif, die sekerheid van die opdragte. Weerhou jou van onmin met jou naaste, want dis waar Ek woon – tussen My gelowiges, in die hart. Maak jou hart oop en bied so jou huis (in die gees) as vesting vir onsekere reisigers. Voed hulle en klee hulle en laat hulle nie net verby trek nie, want dit mag Ek wees wat jou kom besoek het. Waar twee of drie in My Naam vergader, daar sal Ek wees. Amein.

Stuk 6 – 24/2/2011

Ek sal die geheime van die aarde, soos vir My vorige knegte gegee, openbaar aan julle, in die eindtyd. Want die aarde moet baar – 'n nuwe lewe baar, aangesien die nageslag 'n nuwe hemel en nuwe aarde belowe is. Ek sal Myne behoed om die omvorming as 'n spoedige opvou en oopvou te beleef, terwyl die goddeloses saam in die voue en skeure van die aarde sal invou om sodoende die nuwe lewe te bemes. Hierdie aarde is al rou van oorbewerking, want die mens is mag gegee om die aarde te bewerk, maar uit die wil het selfsug gespruit en sodoende masjiene wat ongenaakbaar die aarde stukkend krap. Ek hoor die pyn en lyding van die aardkors en sal My engele ook aangaande dit opdrag gee. Is jy getrou om My Krag te gebruik en nie op jou eie kragte te steun nie? Die verskil lê by 'n lewe van oorgawe aan waarheen Ek lei. Ek bedoel vooruitgang van tegnologie – sonder selfsug. Ek bedoel 'n goeie inkomste – met versorging van die behoeftige naaste. Ek bedoel 'n ligkrans om jou hoof – dis 'n lewe sonder stres, want jy handel in Vrede. Amein.

Leef in die skoonheid van die wedergeboorte. Dit is die wil om My deur jou te laat leef. Dan vloei My kennis as Wysheid in jou are en jy gee gehoor aan die skepping se behoefte, sonder om versoekings van eie gewin te ontgin. Ek SAL jou lei in die Ryk van die Lewe in. Amein.

Stuk 7 – 25/2/2011

Sekerlik weet Ek alles wat My geliefdes in gedagte het. Sekerlik rig Ek dit na My as hulle My so vra. Ek wil graag betrokke wees by Myne deur hulle harte. Laat jy My toe?

Is jy die eerste om daagliks na My te kom met versoeke of vra jy bloot dat My Krag deur jou moet vloei? Die tweede is altyd die beter opsie, want My Wil is dan afgebid oor jou werke. Weerhou jou daarvan om baplannings vir jou dagverloop uit te skryf en leef in die oomblik vir jou naaste. Arbei – werk hard en jy sal rus vind in My – Amein.

Wat behels die arbeid as jy daaglik só wil benut? Kyk na jou naaste deur My oë van Liefde en Barmhartigheid. Kyk of jy hulle in My kan vind. Dit beteken: Kan jy sien hoekom en hoe Ek hulle geskape het? Wat in die individu maak hom of haar uniek? - dit is 'n afbeelding van 'n gedeelte van Myself en in daardie opsig vind jy hom of haar in My. As jy daarby hou om elke mens wat jou weg kruis só te evalueer, sal jy spoedig in vrolike dankbaarheid rus vind, omdat Ek dan jou ruimte betree deur jou naaste. Bemin My só en EK sal jou Liefde bewys. Amein. Trek My Wese aan met 'n brandende hart en EK sal jou vul met Liefde, ewig. Amein.

Stuk 8 – 25/2/2011

Waarheen dryf die tyd met My Volk? Moet Ek agterna kom of hulle terugroep? Nee, tyd is 'n onbepalende, onbeduidende faktor vir My, en vir jou? Leef in die geestesruimte, dus in die BESEF dat EK aanhou en ewig is as 'n standvastige iets en nie deur tyd gedruk word nie. Beleef My saam met tyd as iets wat groei en groter word en meer en meer ruimte vul en jy begin verenig met My as Godheid. Amein.

Trek jou skoene uit – dit beteken – trek jou wil uit en staan so naak voor My met My wil wat jou klee. Dán sal jy die oorgang van lewe en dood begin begryp en daarop voorberei. EK IS altyd daar. Jy kom staan voor My in jou hart wanneer jy wil. Dit kan elke dag of heeltyd ook wees. As jy jouself só kan stroop van die beplanning en wil om 'n weg te volg en jouself so open om My te aanskou, sal jy jou nietigheid maklik beleef en soekend na Barmhartigheid die woord – 'nie soos EK wil nie, maar soos U wil' 'n lewensuitkyk maak. Ek wil dan jou hart aanneem en jou Rus wees en nooit van jou skei nie, dus is die oorgang tussen lewe en dood 'n nietige saak – onbenullig.

As Ons dan só Een is – groei saam met My in tyd. Tyd is dan nie 'n bepalende faktor, maar 'n eienskap wat 'groei' beskryf. As jy nie gekoppel is aan My nie, groei jy in jou eie tyd, nie in tyd saam met My nie. Word eers een met My en ons ontwikkel saam om weer te skep en te heers in die ewigheid. Die Liefde en tyd is een in My. Buite My is dit nietig. Amein.