Woord aan Nalize op 14/6/2010

Woord aan Nalize in Junie 2010

Woord aan Nalize op 14/6/2010

Ja, My Volk, julle hulpgeroep klink op in My ore. Ek is bedag op elke waaksame wat met sorg na My soek. Ek is Barmhartig en sal die vyand laat speel met hulle eie lewens soos wat hulle wou speel met julle s’n. Die tyd is in My Hande, die ure in My weë. Kyk maar OP, want af en om julle is daar niks van My te vind nie. Die doolhof van ongeregtigheid sal kringend verwurg, maar dié wat die voortou daarin neem, sal self ook in hulle toue verstrengel.

Waarom knaag en karring met senuwees belaai as die ‘waaksaamheid van vorste’ julle met redding kan bevry. Nee, volkie, laat ook nie jou lot aan ander oor nie, maar vind bevryding in die Waarheid wat met jou ook spreek. Ek sal as Vors vir elkeen ‘n Weg tot Lewe bewerk as jy My toelaat deur deurlopende ootmoed. Daarin lê die Wysheid. Amein.

Weer is die tyd verleng uit genade om dié wat voorberei in gebed en krag kans te gee om te vind waarna hulle smag. Nie weer sal uitgestel word aan die onheil wat opwel soos naarheid oor My heiligdom nie. Die gruwel hoort nie hier, net soos ‘n vark met ‘n goue ring ver is van skoonheid. Lig is die land van die Suide. Lig is die volk wat daar hoort, want uit die Lig kom seën voort. Amein.

Woord aan Nalize op 15/6/2010

Hier op aarde is daar onmin, maar in My is daar Vrede. Hier heers slawerny en by My Vryheid. Hier is vuilheid en EK IS Skoonheid. Waar bevind jy jouself? Hoe kragtig is jy? Is jy ‘n pool of in die middel? Ek gun jou die kans om deel van My pool te wees. Neem jy dit aan?

Is jy versterk deur Lewende Water wat jou aanhoudend reinig of is jou reiniging maar jaarliks, soos jy dit verkies? Is jy seer van rowwe behandeling omdat jy nie hier tuishoort nie? Of behandel jy rof omdat jy dit as uitweg en oorlewingsmaatreël beskou? Waar is jou Liefde? Waar is jou Waardigheid? Waar is jou sekerheid dat Ek op jou wag aan die anderkant van jou sterwensuur? Leef met die geloof dat Ek jou wil kom haal en jy sal getrou leef aan My Weë. Ek, as ‘n Koning, Broer, Vriend en Liefling, wil jou met ope arms ontvang – neem My daarom só met ope arms aan in jou daaglikse bestaan? As jy só leef, het jy die Krag uit My in jou om die vyand vreesloos in die oë te kyk, want dit sal Ek wees wat vir jou veg. Wees onderdanig aan die Liefde wat tussen jou en jou naaste heers en die Liefde sal ook vir jou die weg tot bevryding baan in jou nood. Waarheid spreek en is getrou, Land van die Suide wat vele in die Lewe sal hou. Amein.

Uit al die hoeke van die aarde sal Ek julle versamel, die Waarheid, Wysheid, Liefde en Krag, om Lig te dra tot in Ewigheid. Amein.

Met Liefde, Jahshua.