Abba Vader aan Judith de Beer: - Openbaring 4 tot 6

 

Openbaring 4

1 Junie 2007 om 23h45

Ek het die opdrag gekry “skryf”, en ek is bang om te skryf.

Ek het die teenwoordigheid van U verlossingsengel gevoel, wat ons die engel van die dood noem. Maar daarmee saam het ek ook U vrede ervaar en ook die gerusstelling dat almal wat in U Naam woon, veilig en geborge by U is. Soos dit in die dae van die Farao was, so sal dit binnekort op die aarde gaan. Swyg my siel, want jou God is Koning.

Hongersnood en pessiektes sal soos ‘n hongerige springkaanplaag oor jou land en die wêreld gaan. Ween o aarde, soos ‘n dorstige kannibaal sal jy jou voldrink aan die bloed van jou eie kinders. Die staal wat uit jou ingewande geoes is, sal deur die ingewande van jou bewoners gaan om die nuttelose lewe terug in die grond in te herwin. Jou dae wat warmer word, sal winde laat waai, terwyl die aarde stadiger, dan weer vinniger om sy eie as sal draal.  Ween o kinders van die lig, want die oes het skraal geword. 

Maar verbly jou O Sion, jou God het naby gekom en terwyl die winde loei en satan se oë van woede sal gloei, sal ‘n groot gejuig van engeleskare op hierdie aarde weerklink. Want ons Lig, Ons Vreugde, ja ons Vader se Kind het weer Sy weg na ons aarde gevind. Die tyd raak min. Moenie huiwer om jou God te bemin. Die tyd het naby gekom waar jy Hom sal soek, maar nêrens meer in jou siel sal vind.

(PS: Ek het vir ‘n tyd gevra maar niks gekry nie.)

 

Openbaring 5

2 Junie 2007 om 14h30

Hoekom is jy in jou eie oë ‘n klein dwaas?

Dit terwyl Ek self jou lei,

jou stewig by die hand gaan vat,

op verre paaie gaan ons hand aan hand die lewenspad saam stap.

Wees vrolik en bly jou Vader is naby.

O Sion, jy is my blom,

vir jou gaan ek na hierdie wêreld kom.

My maagde wat so trou op my koms bly wag,

jul maak My hart so baie sag.

Terwyl die wêreld in sy oordeel rou,

gaan ek met jou my Sion trou.

Met harp en siter, ja speel ook met die simbaal,

my bruid kom ek vir ewig haal.

Trou het ek jou op jou weg bewaar,

O Sion, jy gaan my kind nou baar.

In groot gevare gaan ek jou lewe spaar.

Saam gaan ons wees die volmaakte ouerpaar.

Stewig vasgebind is alle kwaad.

Uitgeroei sal wees die slang se saad.

Sing en wees nou bly, die hele wêreld raak nou vry.

Heilig, Heilig roep die hele hemelskaar.

Sion het vir God Sy kind gebaar.

 

Openbaring 6

2 Junie 2007 om 21h00

Jy wil meer omtrent die wedergeboorte weet. Laat ons daarom begin. Ek is nie net jou Verlosser wat reeds vir jou ‘n woning by My voorberei het nie, maar soos jy reeds weet is Ek die Verloskundige, wat elke treetjie van jou wedergeboorte met jou meemaak. Soos wat jy ook reeds weet, dat alles wat in my skeppinge teenwoordig is, in ‘n miniatuur vorm, volledig binne jou teenwoordig was, die dag met jou liggaamlike geboorte op hierdie aarde. Jy en elkeen het ‘n ver pad deur die ewigheid gekom, om weer tot voltooiing te kan kom, om dit te wees wat julle as volmaakte geeste was voor julle groot val. Alles binne jou, dit wat jy is, is weer volledig daar. Die finale herrangskikking van dit alles hang nou van die mens homself af. Die regte opvoeding van die kind is hier van kardinale belang. Waar dit egter in sommige gevalle deur omstandighede ontbreek en waar Ek weet dat hierdie mens oor die volle potensiaal beskik om as een van my kinders uit die stryd te tree, word daar van my spesiale engelgeeste beskikbaar gestel om bystand te verleen met die opvoeding van so ‘n mens.  Daar moet ‘n sekere volwassenheid by die mens intree waar hy tot die besef moet kom dat hy sekere keuses sal moet maak.  Hier begin die hergroepering en goed en kwaad word van mekaar geskei en die groot stryd begin.  Soos wat enige geboorte met voorgeboortelike pyne gepaard gaan, net so gaan dit met die wedergeboorte van die mens maar swaar.  Daar is baie kerke, sowel as sekte groepe wat die mens laat glo dat deur slegs mondelings te bely dat mens ‘n wedergebore Christen is, dit heeltemal voldoende is en die taak daarmee afgehandel is. Hierdie is egter een van die grootste leuens denkbaar en so reg uit die kraal van Satan homself afkomstig. Die wedergeboorte is ‘n baie delikate proses, wat in bykans alle gevalle eers na die liggaamlike dood van die mens in die geesteswêreld sy voleinding bereik. Indien die mens sou besef hoe belangrik die vordering van sy wedergeboorte op die aarde is, sou hy onafgebroke daaraan aandag gegee het.  Soos wat julle reeds weet, is ‘n minuut se vordering in die vlees, gelykstaande aan ‘n honderd, selfs ‘n duisend jaar in die wêreld van die gees. Om terug te keer na dit wat die mens in homself huisves; die siel, wat deur middel van haar vleeslike liggaam en sintuie, nou volle kontak het met haar materiële wêreld om haar, is net so in staat om, deur middel van haar gees, met haar geestelike wêreld in kontak te kom. Die siel in al haar ondenkbare biljoene geestelike deeltjies, wat bestaan uit die suiwer geestelike wat deur haar ondenkbare lang terugtog uit die materie losgekom het, moet nou  beslis waar haar liefde en toekoms lê.  Die op sigself dooie liggaam en die daar teenoor lewende Gees, is die twee pole met die vrykeusende siel tussenin.  Van buite wink en lok die materie en die siel met al haar sielsdeeltjies herken haarself daarin en antwoord met hartstog deur middel van haar materiële liggaam op hierdie verlokking.  Al hoe meer stort sy haarself weer met oorgawe terug in die harde gevangenskap van ‘n soliede wêreld. Die mens is egter deur die liefde van sy hemelse Vader nie bestem om ‘n voortdurende siklus van herhalende gevangenskap in die materie te deurgaan nie, daarom is aan hom die Gees van God geskenk om hom as leidsman by te staan om sy weg terug na die Vaderhuis te kan vind, wat hy eens uit vrye keuse voor die grondlegging van alle skeppinge verlaat het.  Hierdie gees in die mens is dan die teenvoeter vir die roepstem van die materie na die siel.  Binne die mens ontstaan daar nou hierdie onverklaarbare drang om homself in sy eie wese te herken. Daarmee saam wil hy nou ook tot die oorsaak van sy bestaan, asook sy bewussyn kom.  Hy kom tot die gevolgtrekking dat dit vir hom onmoontlik was om spontaan tot ‘n denkende lewe te kan ontstaan.  Nou begin hy na die Oorsaak van sy bestaan te soek. Hierdie drang binne die siel is die stem van die Gees homself, wat liefdevol en sonder enige dwang besig is om sagkens die eens gevalle siel as volmaakte mens terug na sy Skepper en Vaderhuis te lok.  Wanneer die siel uit eie keuse begin om haar samewerking te gee en met verlange haar terugtog na haar Vaderhuis aanpak, begin sy dan ook in eenheid met haar gees, haar wedergeboorte, om as eindresultaat as ‘n vlekkelose rein wese weer van aangesig tot aangesig voor haar Vader te kan staan!!