Abba Vader spreek nou tot Sy kinders !!

Abba Vader het Sy belofte nagekom en spreek nou direk tot sy kinders in Sy volk, Suid van die riviere van Kus. Laat ons Hom loof en prys daarvoor. Sy belofte is in die Lorber werke en wel uit:

Einde van "Huishouding van God – Boek 3" - Beloftes aan Sy kinders

18. En dit was My huishouding tot by Abraham, soos wat in die begin van dié werk gesê en voorsien was!

19. Daar sou weliswaar nog baie van Noag tot aan Abraham genoem kan word; maar aangesien Moses reeds uitvoerig daaroor verslag gegee het en daaruit elkeen wie in die wetenskap van die ooreenstemmings geoefen is, al die kleinighede kan vind, word die alreeds baie uitgebreide werk daarmee afgesluit!

20. Geseënd is elkeen wat die wet van die liefde, wat deur dié werk straal, as basis van sy lewe sal maak; want daarin sal hy dan ook die ware, ewige lewe vind!

21. Wie dit egter maar net sal lees soos `n ander sprokiesagtige geskiedenisboek, die sal vir sy gees `n baie maer oes verkry!

22. En wie dié werk sal bespot en vervolg, die sal sekerlik nie aan die tydelike en ewige dood ontkom nie, want Ek sal hom onverwags gryp, wanneer hy dit op sy minste sal verwag!

23. Wat die openbaarmaking van dié werk betref, dit sal wel op die korrekte tyd deur My instruksie gerig word, aan die een of die ander van hulle wat vooraf deel sal hê aan die nuwe lewendmaking van hulle gees.

24. Daarmee is aan julle, al My liewe vriende en kinders, My ryklike seën, My Vaderliefde en My volle barmhartigheid gegee! Wandel getrou en onverskrokke op hierdie weë van die lewe, en Ek, julle aller Heer, Vader en God, sal julle aan My hand in My huis inlei; en daar sal van niemand `n haar gekrenk word nie!

25. Amen, Amen, Amen. Deo gratias! Einde van dié werk!

 

Boodskap van die Vader aan een van Dogter van Sion se Dogters.

Hierdie boodskappe is die gevolg van hierdie dogter se toegewyde erns om binne die neergelegde opdragte te wandel, soos uiteengesit in die Lorber– en Duddewerke wat deur JaHshua gedikteer is. Laat dit ons almal tot aansporing en versterking dien, laat ons haar dra met ons gebede, want `n groot barmhartigheid vanuit die hemele het die Dogter van Sion, Suid van die riviere van Kus, te beurt geval. Wat `n grootse en wonderlike beloning vir elkeen wat betrokke was in die daarstelling van hierdie werke. Amen.

Die volgende direkte inspraak is ontvang deur Judith de Beer van Ottoshoop in Wes-Transvaal:

Gesprek 1

Die volgende het ek in my gees ontvang net nadat ek wakker geword het..

30 Mei 2007

Vraag: Spreek U as die Vader tot profete?

Antwoord: Ek spreek as die Verlosser deur My Gees in die Waarheid.

Vraag: Maar het U nie tot Moses en Elia direk as die Vader gespreek nie?

Antwoord: Ek het as God die Skepper tot Moses in `n sigbare vuur gespreek. Ek het as God die Skepper tot Elia in `n onsigbare, maar sintuiglike koel bries gespreek.

Vraag: In antwoord op my vraag spreek U my aan as "Ek", wie is die "Ek"?

Antwoord: En ek antwoord jou weereens dieselfde as op vraag 1. Ek spreek tot jou as jou Verlosser deur My alomvattende Gees in die Waarheid.

Vraag: Hoe moet ek U aanspreek?

Antwoord: My verlossing het jou te beurt geval, jy kan My Abba Vader noem.

Vraag: Ek is bang om tot mense te spreek. Ook is ek onseker oor myself. Ek is bang dat ek as `n valse profeet of leraar in U Naam sal spreek. Hoe erken ek in myself of andere `n valse profeet? (Hier kry ek `n gevoel van `n effense humor)

Antwoord: My ware profete (lui knegte) het altyd een of ander verskoning om nie hulle taak te verrig nie. Neem as voorbeeld weereens Moses en Jona. Om terug te kom tot jou vraag oor die herkenning van `n valse profeet gaan ek sonder om uit te brei jou slegs een karaktertrek van so `n persoon gee. Hulle is almal onderlangs op soek na `n "stage". Die woord "onderlangs" verduidelik baie van hierdie bedrieërs se karakter. Gaan dink daaroor.

 

Gesprek 2

Oggend 7h30, 1 Junie 2007

Vraag: Kan ek namens die Gees binne myself spreek? Soms kan ek nie onderskei wanneer dit die Gees en wanneer dit ek is wat spreek nie.

Antwoord: Wanneer jy geestelik ontwaak het, is jy jou gees en is dit altyd die Gees wat spreek. Nie net ter wille van jou nie, maar ook ander wat tans angstig is om hul gees te laat ontwaak, gaan ek jou `n oefening gee. Al hierdie informasie is telkemale aan julle gegee, maar omdat julle soos `n pelgrim is, wat `n liggie in `n stikdonker nag in die verte sien skyn en hom daarheen haas, maar soos `n dorsteling, wat in die woestyn `n lugspieël na water naloop, maar nooit daar uitkom nie, so bly julle liggie altyd buite bereik. Om mee te begin, jou gees is losvloeiend van jou wêreld. Dit wil sê, daar bestaan vir hom geen behoefte in die liggaam op hierdie aarde waarop jou liggaam woon nie. Indien jy aktief in jou gees wil wees, moet jy nie met jou aardse verstand probeer dink nie. Ontspan en laat jou gees vry.

Nou kom ons by jou siel, wat die eintlike denker hier op aarde is. Jou liggaam is haar aarde. Die liggaam se aarde is die aarde waarop ons woon. Die siel wat midde tussen haar liggaam en haar gees woon, is voortdurend besig met haar eie sowel as haar liggaam se instandhouding. Die liggaam met haar biljoene atome, word gevoed en in stand gehou deur haar materiële wêreld. Die siel op haar beurt, word gevoed en in stand gehou deur al die geestelike wat uit hierdie voeding van die materiële wêreld kom.

Om dit alles tot die werklike lewe te bring, moet dit alles tot die goddelike ontwaking kom. Hier tree die alomvattende gees, wat goedgunstiglik aan die mens, deur Sy Vader geskenk is, in. Kom ons bly voorlopig eers by die siel. Alles bly altyd die keuse van die siel. Haar fokus op die liggaam is altyd toegespits op die behoeftes van die liggaam, hetsy dit kos, ontspanning, voortplan-ting, behuising, kleding of elke daaglikse behoefte is. Die siel raak so verknog en verweef met elke behoefte en genot van elke sterflike atoompie van haar sterflike liggaam, dat sy nooit die tyd kry om die nodige lewende voeding wat afkomstig van die Gees is, deur te gee na haarself toe nie.

Die liggaam op sigself, is voortdurend besig om in al sy selle te sterf. Hierdie biljoene selle wat voortdurend besig is om te herproduseer, herhaal vanaf die bevrugting, die sterwingsproses. Na die afsterwe van die totale liggaam, gaan die siel dus voort met hierdie herhalende proses om die reeds afgestorwe liggaam te probeer onderhou. Dit is dan waaruit die ewigheid van `n onvolmaakte gees bestaan; dat die siel voortdurend en herhalend besig is om sy fiktiewe liggaamlike bestaan te reproduseer. Dit is die ewige dood.

Oefen daarom jou siel daarin om haar los te maak van die alledaagse bestaan en sloer van die vleeslike liggaam, wat in alle gevalle instinkmatig en met die hulp van beter geeste onderhou sal word. Sy moet daarop fokus om haarself in `n ontspanne verhouding, met die vryvloeiende gees in haarself te verenig, waarop sy haarself met die Meester van alle lewe kan verbind, wat haar op Sy beurt persoonlik na haar behoeftes sal versorg.

 

Gesprek 3

1 Junie 2007 17h45

Net soos wat die Samaritaanse vrou, nadat sy deur My die waarheid ontvang het, na die Lewende Water gevra het, so het jy gedoen. En net so sal daar `n tyd kom, dat van jou volks-genote sal glo, nie omdat jy hierdie dinge aan hulle vertel het nie, maar omdat hulle self eerstehands met My sal kennis maak.

Kom ons begin by die begin van hierdie groep mense, wat die benaming Samaritaan te beurt geval het. Net soos wat daar huidiglik groepe onder julle is wat sterk op hulle oeroorsprong wil staatmaak, was dit in daardie tyd baie belangrik om te weet waar jy in die huis van Israel gepas het. Toe, net soos nou, was daar geweldige onderstrominge, in die verskillende geledere van ons Israeliete. Rykaards het vir hulleself of hulle kinders, die stoele van Levi bekom deur die klank van geld. Snobisme was aan die orde van die dag. Minder gegoede burgers moes daarenteen met min wat van die tempel afkomstig was, tevrede wees.

Onmin het ontstaan en `n groep het hulle van die tempel afgeskei. In hulle soeke na die oorspronklike waarheid van Moses, het hulle na die berg van Sinai teruggekeer. Omdat hulle nou sonder tempel was, het hulle `n veragtelike volkie in die oë van hulle broeders geword.

Wie My egter soek, die sal My vind. Met My vlees-wording het ek dan ook My persoonlike besoek aan hierdie verstote volkie gebring. Hierdie Samaritaanse vrou, met haar betreurens-waardige verlede en lewenstyl, was deur My uitgesonder, en Ek het haar persoonlik en alleen te woord gestaan. As `n verstoteling in `n verstote gemeenskap, het sy in haarself `n groot soeke na haarself, asook haar Skepper ondervind. Omdat sy, ondanks haar lewenstyl, na die waarheid binne haarself gesoek het, het die groot voorreg haar te beurt geval om die Lewende Waarheid in die lewe self te ontmoet. Sy het met hierdie waarheid, sonder skaamte en in vreugde, dit al hardlopende na haar dorpie uitgejubel. Gaan jy en doen net so.