`n Brief aan `n ateïs

Hierdie onderstaande brief is geskryf aan `n ateïs, iemand wat die Bybel in totaliteit afkraak, synde dat dit onbetroubare indoktrinasie propaganda is. Ook beweer hy dat dit sinneloos is om aan een “autonomous” God te glo, want elkeen moet `n godsdiens bedryf op sy eie manier en soos wat hy gewoond is. Ons dink dat dit dalk waardevol sal wees in `n gesprek met ander wat ook so glo.

 

Beste vriend,

 

My probleem is die volgende. Hoe kan ek iemand oortuig van iets, as hy die bronne wat ek aanhaal, naamlik die profetiese woord nie glo nie? Dit is futiel om eers tyd te mors hiermee. Wat ek egter wil doen, is om `n paar stellings te maak en ek sal graag jou opinie daaroor wil hoor. Ek dink ons kan sinvol redeneer, aangesien ek kan sien dat jy `n nugter denker is, wat alles eers verstandelik wil bewys.

1.   Ek verag alle teologiese instellings, instansies soos kweekskole en kerke, saam met hulle ingewydes, die teologiese professors, doktore en dominees. Dit is indoktrinasie-skole vir die oningeligtes, bedoel om hulle in die duister te hou en hulle te bedrieg om hulle geld te vat.

2.   Ekself is `n siviele ingenieur en het ook die pad van die verstand loop. Een en een moet tog altyd twee wees, het ek gedink. Dis ongelukkig nie so met die kerke nie. Enige fairytale moet geglo word, want anders het jy geen geloof nie. Vir my moet geloof = waarheid wees, anders is dit mos ongeloof. As daar dan `n Skepper is, moet Hy tog DIE groot ingenieur wees, so het ek geredeneer, en dan kan hierdie kerklike snert tog nie geglo word nie. Daarom moet alles wat ons glo, tog bewys kon word.

3.   Ek gaan `n paar stellings maak en sal graag jou opinie wil deel rakende hierdie punte. Indien ons dalk saamstem hiermee, kan ek jou dalk help om in die mees ongelooflikste, wonderlikste waarheid te deel, wat werklik die heelal, jou herkoms en jou nadoodse bestaan vir jou sal ontsluit. Daar is iets veel groter verberg en van ons weerhou as net die lot van hierdie volk.

4.   Kom ons begin deur te sê dat ons, geskape met `n vrye denke, `n Godsbesef en `n gewete, logiesergewys geskape moes gewees het deur `n Wese wat minstens op `n groter en hoër intelligensievlak as ons moet wees. Noem hierdie wese enigiets, `n krag, `n mag, die liefde, of God. Maak nie saak nie.

5.   As ons verder na die intense akkuraatheid van die skepping kyk, bv. hoe presies die son, maan en aarde in hul bane bly, die maan bv altyd met sy gesigkant na ons toe gerig, dan sien ons ook hierdie Mag aan die werk.

6.   Daar is werklik drie ryke op aarde wat aan ons bekend is, die mineraleryk, die planteryk en die diereryk. Hierdie drie ryke lyk met die eerste oogopslag asof hulle niks in gemeen het nie, maar dat daar `n skakeling is op geestelike gebied vanaf mineraal deur die wortels van `n plant na die vrug, na die diereryk soos na voëls en diere toe, is gewis. Verder eet dierspesies mekaar op, veral in die see gaan dit woes. Wat is die doel hiervan? Het hierdie groot Mag dan `n perverse behae daarin om te sien hoe die een ding die ander verorber, dit uitmis en voortgaan met `n oënskynlik doellose opvreet en uitmis van ander? Nee, daar is `n veel dieper doel met alles, en dit kan kortliks beskryf word as `n innerlike ontwikkelingsleer (leer soos in klim), waar alle innerlike kragte `n opwaartse proses ondergaan. Die innerlike is dit wat ons “siel” noem. Siele in hul eenvoudigste vorm bestaan in minerale en plante, weens die feit dat hulle sekere eienskappe toon. Vgl gemagnetiseerde yster, - dit lyk dood, maar as vylsels naderkom, rig hulle hulleself in `n gegewe patroon, eie aan die aarde se magnetisme. So kan plante waarneem as `n koedoe verbykom en blare eet van `n naburige struik. Onmiddellik word alle soortgelyke struike in sy omgewing bitter en die koedoe moet heelwat verder gaan wei. Daar was dus skakeling in `n realm wat ons nie kan sien nie. Noem hierdie eienskap dus die vermoë van die siel van die plant om te kan kommunikeer. By diere is hierdie eienskap al baie verder ontwikkel en kan ons werklik praat van `n siel in die dier. By die mens, as goddelike-gelyke skeppingswese is die siel al oneindig verder ontwikkel, en het ook nog `n inspuiting van die goddelike Gees, of Krag bygekry. Let wel dat ek nie van reïnkarnasie praat nie, want dit is snert. Hierdie is die opwaartse ontwikkeling van siele, vanaf die mees eenvoudige tot die mees komplekse, en dit vind plaas in geskape materiële houers, wat ons die uiterlike liggaamlike vorm noem.

7.   Hoekom hierdie lang draai met jou stap. Eenvoudig, ons is geskape bokant hierdie drie ryke, met genoemde eienskappe in para 4. Ons moet dus spesiaal wees, want ons is nie gebonde aan `n neergelegde wet, soos die wesens in die voorafgaande drie ryke nie. Hulle is almal skepsele, gebind deur `n wet wat hul bestaan reguleer, maar ons nie. `n Klip bly `n klip, `n boom staan waar hy geplant is en `n leeu moet proteïne eet, anders vrek hy. Ons is vry om te maak wat ons wil, want aan ons is `n vrye wil gegee. Ons sal slegs die gevolge dra van ons wil. Wil ons binne die orde bly, gaan die goed, gaan ons daarbuite, kry ons pak.

8.   Omdat die hele heelal getuig van die bestaan van `n ordelike mag, is dit dus logies om af te lei dat hierdie Mag vol liefde moet wees, om so iets groot te geskep het. Ook dat Hy `n doel het met Sy skepping, want selfs ons, bou en beplan nie sommer iets doelloos nie. Hoeveel te meer nie Hy wat ons geskep het nie. Dus is LIEFDE die groot lewegewende mag. Dink maar aan `n vroeë oggend, na `n reëbui, hoor die voëls, ruik die lug, kyk die velddiere. Orals stroom LIEFDE jou tegemoet, jy voel self sommer vol liefde. Dus is dit mos logies om aan te neem dat Hy ons as die kroon van Sy skepping geskape het, en dat ons afbeeldings van Sy LIEFDE sal moet wees, om in beheer te gestel word van Sy skepping. Het jy bygestaan toe jou kind gebore is? Hoeveel liefde was daar nie in hierdie daad nie? Die gevoel toe jy die bloederige bondeltjie aan sy ma gee, hierdie bondeltjie met jou bloudruk daarop. Hoeveel groter moet so `n Wonderwese se liefde nie wees toe Hy ons in bestaan geroep het nie?

9.   Verder is dit logies om af te lei dat Hy, die GROOT LIEFDE ook vir ons `n handleiding sou gee, waarvolgens ons kan leef, sodat ons Hom sal tevrede stel. Selfs motorvervaardigers sit `n diensboekie en `n werkswinkelhandleiding in die karre wat hulle bou. Kom hul instruksies na, en jou kar sal `n lang leeftyd hê. Kom dit nie na nie, en die ding “cease” baie gou! Ook so met ons. Hou jou by die stel reëls, en jou lewensverwagting, jou geestelike vreugde en toekomsverwagting sal wees wat Hy belowe. Doen ons dit nie, is siekte ons voorland, stadige dood en dan `n ewige dood. Dit is tog ook weer logies dat ons nie gebore is om groot te word, te vreet en drink en dood te gaan nie. Daar moet `n doel wees. Die doel is `n proeftydperk, waarin ons getoets word of ons geskik sal wees vir hierdie GROOT LIEFDE se uiteindelike doel met ons, naamlik heerskappy oor die ondergeskikte drie ryke. Die reëls word vervat in die twee gebooie van die liefde, soos deur Jesus aan ons gegee.

10. Nou kom ons eers by jou punt uit van een autonomous God uit. Verseker moet ons glo dat hierdie bewese God of LIEFDESKRAG tog EEN is, aangesien ons Hom as oneindig moet beskou, gesien die oneindigheid van die sigbare skepping buite ons planeet, sowel as die oneindigheid in die kleine skepping van die atoomwêreld. Daar kan nie drie of twee oneindighede langs mekaar bestaan nie, dis onmoontlik. So sal hierdie oneindige nie-vir-ons-sigbare en ontoeganklike God Homself aan ons moes openbaar. Dit het Hy gedoen in die persoon van Jesus Christus. Let wel, nie in Mohammed nie, of Boeddha of watter ander een ookal nie. Jesus is God, Jesus is LIEFDE, Hy Is die Vader in vlees geformeer, so geskape sodat ons Hom as die oneindige LIEFDE kan liefhê. Hoe sal jy nou `n 30m lange pragtige meisie kan liefhê? Dis mos onmoontlik, want die skaal verskil te veel. So was dit ook tussen die mense en God, vanaf Adam se tyd af tot met die vleeswording van God in Jesus. Nou kan ons onsself met ons Vader identifiseer, ons sal Hom in die hiernamaals kan sien, kan vasdruk as `n Vader en kan liefhê soos `n kind. In ons vleestoestand is Hy nie sigbaar nie, maar ons kan hom in die Gees ervaar, as ons Jesus se leer van die LIEFDE navolg. Dit is Een ding wat ons Vader nie KAN weerstaan nie. Hy kan nie LIEFDE weerstaan nie, want Hy is LIEFDE Homself.

11. Ter afsluiting dan net dit oor die einddoel van Sy kinders op aarde. Hy het `n ses dae (sesduisend jaar) periode toegelaat wat nou tot einde loop. Daarna kom daar `n sabbatsrus van duisend jaar vir diegene wat die reëls (workshop manual) streng nagekom het. Al hierdie planne het Hy, as die ewige LIEFDE, in gekodeerde vorm deur profete vir Sy kinders gegee. Daarom spreek Hy ook in gelykenisse, sodat die blindes juis NIE kan sien en hoor en gered word nie. Slegs die wat in die LIEFDE werksaam is, sal kan verstaan.

12. Daarom was dit vir my sinneloos om iets oor die grondgebied van die aanvang van die 1000jarige sabbatsrus aan jou deur te gee. Indien jy nie eers in die bestaan van `n ENIGE God glo nie, nie glo dat Hy Jesus Christus (JaHshua Messias) is nie, redeneer ons by mekaar verby. Ja, Hy het sy eindtyd geografiese gebied bepaal en gegee, ja Hy het EEN laaste dag volk uitgekies om vir Hom in die laaste verlossingsplan voor te gaan, ja, dit kan uit die Skrifte, Bybels en buite-Bybels bewys word.

 

Jammer vir die lang redenasie, maar jy sal saamstem dat dit onmoontlik anders gedoen kon word nie. Ek wag graag om van jou te hoor.

Groete

Dirk van Vuuren