Openbaringe van Vader aan Marietha Nel

Marietha Nel. 17 jaar oud. Woonagtig op Lydenburg.

DIE OPE POORT

14Oktober 2007

Deur die ope poort,

vanuit MY eindelose barmhartigheid,

klink MY stem diep

uit die mens se hart uit

 

So soek MY altyd,

jy sal MY vind.

Jy is glad nie meer

deur satan se boeie gebind

 

14 Okt 2007 18:15

Vanuit die donkerste nag,

klink daar die stem op van nog een hemelwag.

In groot gevaar gaan

sy op MY woord bly staan.

 

In die donkerste nag,

sal siele op die aarde versmag

 

EK wil hulle red en MY woord moet weerklink,

Ek wil nie siele in die diepte in laat sink.

Eendag sal julle verstaan,

hoekom EK jul stuur om MY weg oop te baan

 

In tye van gevaar gaan

EK jul by MY vergaar.

Onder MY vleuels sal jul skuil.

 

16 Okt. 07:58

Oor die inham van die kus

lê ‘n sekere rus.

Die skippie kom van ver vandaan,

Soos hy oor die brandings gaan.

Maak gou, dis MY lewensreddingskuit

wat EK stuur uit die hemel uit.

 

Van alle trots ontdaan,

sal die volk van Mammon rondstaan.

Verbly jou, MY Sion, EK kom!

 

18 Okt

Reinheid is tuis waar jul in die hemel woon.

Tog bloei op die aarde, skoon,

wit aandblomme in die donkerste nag.

Dit is MY hemelwag,

MY aardse engeleskaar.

 

VOLLE GELOOF

18 Okt 2007

Volle geloof spreek sag met die hart,

dit sluit uit wêreldse smart.

Geloof in strome van bowe,

gee julle krag en laat julle MY lowe

 

Geloof word op liefde gegrondves,

liefde is die rots,

waarteen die waters van die stortreëns klots.

 

Bou julleself op MY liefde,

dan hoef julle geen vernietigende strome te vrees.

Julle sal altyd veilig by MY wees.

MY kinders, EK is rede van julle bestaan,

hef julle harte op na MY.

 

DIE SKEPPER VAN DIE HEELAL

18 Okt 2007 in die nag

In die begin het EK reeds bestaan, EK was ewig, ewig soos MY ewige Seun uit MY en EK uit HOM. Ons, die ewige EEN is nie te skei, soos sommige van julle dink nie. MY Seun is die ewige Lewe en Liefde in MY. HY is ook die Woord. EK self is die ewige Liefde en Lewe. EK spreek deur die Woord. Die Woord sal ewig weerklink, omdat EK die Ewige onoorwinlike Woord in al MY kinders se harte is.

 

Oorweeg hierdie woorde baie goed en moet nie aanstoot daaraan neem nie. In die ewige tyd en ruimte is daar baie dinge waarvan geeneen van julle, MY aardse kinders, weet nie. Die eerste een hiervan is hoe EK julle geskape het as ewige geeste ewige tye gelede. En dat baie van julle teen MY ewige Liefde gerebelleer het en toe in die baie sonne, aardes en mane ingekluister is.

 

Julle rebellie het julle harder as rots gemaak en julle was in die diepte van die aarde, uiteen geruk in tallose klein deeltjies vol van die grootste kwelling. En so het julle al hoe sagter geword deur die kwelling en julle deeltjies het hulleself verdeemoedig en na sagter, minder pynvolle materie oorgegaan. Daarom het EK in die tyd van die tye, as die ewige Liefde en Wysheid aarde toe gekom, om vir julle die pad na die Vaderhart te wys en julle weg oop te baan.

 

En in al die onmeetlike ruimtes is daar niks meer vreugdevol as ‘n kind wat weer sy weg na MY Vaderhuis gevind het nie. Daar is ook diegene onder julle wat engele is, wat EK stuur as mense in die vlees, uit vrouens gebore, om julle MY kleintjies, te kom lei en help. Die engele op aarde wys keer op keer weer vir julle die weg na MY aan. MY kleintjies, volg MY na en doen soos EK gedoen het toe EK op die aarde geleef het. Ek het julle belowe dat as julle in MY bly, sal EK in julle bly en EK sal julle nooit verlaat nie.

 

‘n Harmoniese lewe met MY

‘n Harmoniese lewe met MY vereis losmaking van die wêreld. Dan sal EK jou seën en MY stem sal in jou weerklink. Ek, as Skepper, is lief vir al MY skepsele en EK wil dat MY woord ook in hul moet weerklink, omdat dit ‘n groot saligheid in die aangesprokene is.

 

Baie van julle glo in MY, julle Skepper en Vader, maar so min van julle het MY waarlik lief en loof en prys MY met ‘n rein hart. Maar vir ‘n lewe met MY, moet julle doen wat EK gesê het: Julle moet My liefhê uit julle hele hart, hele siel en hele verstand. En jy moet jou naaste liefhê soos EK julle liefgehad het.

 

Julle se nou wel:”Ek het U lief”, maar die reine en tere liefde vir MY bespeur EK heel selde. Julle roep MY aan, ”Meester, Meester” en julle bedoel dat EK julle moet seën. Kan so ‘n holle geroep na MY, MY enigsins laat verbly, en meen julle dat EK julle “moet” seën. Kan julle vir MY sê wat EK “moet” en “nie moet” doen nie? Nee, glad nie. EK, as Skepper, weet van ewige tye wat EK moet doen. Weereens moet EK sê dat geen geskape gees MY van raad kan bedien nie. EK, as die ewige volmaakte Gees, is ook in julle harte aanwesig. In orde moet julle nou julleself rangskik en MY Gees in julle opwek, deur liefde vir MY en vir jou naaste.