DIE DOOP VAN DIE LIEFDE

Liewe vriend     
 
Dit wat ek hier met jou deel is nodig om toe te pas, sodat ware lewe vir ons siele verseker kan word. Ek is maar net 'n gewone swak mens wat Waarheid ontdek het, en hierdie Waarheid word op tasbare wyses aan my bevestig deur Ons Vader, en ek moet dit met jou deel.  Neem asb. die boodskap aan as van die uiterste belang,  beproef dit self en vind so self die Waarheid. 
 
Wat is daar onder "doop" te verstaan? Alles, is die antwoord! Dit word totaal verkeerd verstaan en verkondig, daarom stel omtrent niemand werklik daarin belang nie, alhoewel hulle die seremonie van doop hulle laat welgeval,  want dit is mos mooi as 'n babatjie voor die hele gemeente in die bekende doopseremonie gedoop word. Sommige kerke en mense glo weer jy moet jou "groot" laat doop, jy moet letterlik in 'n groot bad water ondergedompel word. Nou wie is dan nou reg, want as almal die waarheid gehad het, moet daar mos nie verskillende opvattings wees nie, of hoe? So iewers is daar 'n fout in dit wat vir die mense verkondig word.
 
Diegene wat die waarheid soek, weet nou al dat elke kosbare woord van Jesus geestelik verstaan moet word. In Johannes se tyd is mense fisies in die water gedoop in die Jordaan rivier, omdat die mense van daardie tyd nog maar min van Hom geweet het en in die tyd baie waarde geheg het aan uiterlike handelinge, en daar eers 'n bepaalde graad van rypheid by iemand nodig was om die doop as 'n geestelike gebeurtenis duidelik te verstaan. Bowendien het die mense, deur hulle wil om hulle deur Johannes te laat doop, hulle liefde tot Hom bewys, en daarmee ook hulle verlange om hulle met hulle Vader meer vertroud te maak. En in die tyd was dit reeds 'n belangrike geestelike sukses, en so het Jesus Homself ook aan hierdie handeling onderwerp om die werk van sy voorloper Johannes te bekragtig. Want dit sou in die tyd geen sin gehad het om hierdie uiterlike handeling as onbelangrik vir mense uit te lê nie, omdat hulle nog geen begrip van die suiwer geestelike waarheid sou kon gehad het nie.
 
Wat is die ware doop dan? Jy moet self "inklim" in die liefde - dit is die ware doop. Dit is die omskepping van jou innerlike wese na liefde.
 
Nou kan ek al klaar weer hoor hoe sommige se koppe werk, dalk dink hulle, nee aarde, dit is darem te soetsappig! Hierdie liefdespraatjies is vir klein kindertjies en softies, dit is onvanpas en pas glad nie in die hedendaagse wêreld in nie. Kan jy nou voorstel dat die bemarkingsbestuurder en finansiele bestuurder van 'n groot maatskappy met mekaar praat oor hoe hulle in liefde kan optree teenoor mekaar en hulle werkers en konkurrente en kliente? Kan jy jou voorstel dat plaaswerkers en die boere onder mekaar praat en handel in liefde? Kan jy jou voorstel dat die mense in die parlement  en in politieke partye praat oor hoe hulle in liefde kan optree teenoor mekaar en teenoor die landsburgers? Kan jy jou voorstel dat die wêreldleiers saamsit in 'n gees van liefde en al hul onderhandelings en besluite daarop baseer? Kan jy jou voorstel dat kinders in 'n skool voortdurend in liefde onderrig word, en van die onderwysers liefde ontvang, en op hulle beurt weer lief is vir die onderwysers en in liefde teenoor hulle optree? Kan jy jou voorstel dat elke huisgesin in die land elke gesprek, elke woord, elke daad vanuit die liefde doen? Kan jy jou voorstel dat elke dominee en priester en gemeentelid se hart deurdrenk is met liefde? Waaroor sal al die mense hierbo genoem dan praat en wat sal hulle doen?  As dit skielik so kan verander, sal die aarde oornag 'n hemelse plek word. Al is dit so yl gesaai, is dit wat my hoop gee: Dat daar waar die liefde reeds is, waar die hart deurdrenk van liefde is, daar woon die Vader, en in daardie harte is Sy Gees werksaam.       
 
Jy moet die woord wat Hy, Jesus,  vir ons gebring het, aanneem. Dus daarvolgens leef. Wat is Sy woord? Die leer van liefde. Dit staan in die Bybel, woorde in swart op wit, woorde wat bewaar gebly het en tot ons spreek as ons dit lees of as ons hoor iemand sê dit vir ons. Die woorde is egter dood en gedruk op dooie papier, en beteken niks as ons dit nie aanneem nie, met ander woorde doen nie. Jou naaste liefhê soos jouself deur tasbare dade. Dis wat ons moet doen. Wanneer ons mekaar liefhet, nie net respekteer nie, maar liefhet in die volle sin van die woord, dan klim ons self in die stroom van lewende water. Dan word Sy Woord lewend in jou, dan ontvang jy die nimmereindige stroom van Liefde en Wysheid direk uit die Vaderhart - dit is lewende water!  Die Vaderhart is in Wese Liefde Self, waaruit alle lewe voortvloei.
 
Verstaan mooi. Weet jy hoe voel liefde? Dit is die warme, sagte, onbeskryflike edel gloed wat jy in jou hart ervaar wanneer jy opreg lief is vir iemand. Die volgende keer as jy Dit voel, hou Dit vas. Koester en vertroetel Dit, want Dit is Hy!  AS ONS VIR MEKAAR LIEFHET, DAN VIND ONS HOM IN ONSSELF!
Klim self in die stroom van lewende water deur onsselfsugtige dade van liefde aan jou medemens, en jy sal die stroom voel, dit sal jou reinig en verfris en versterk en jou helder insig gee. 
 
Ons kan Sy Woord verneem in Sy boodskappe aan ons deur Jakob Lorber en Bertha Dudde. Hierdie boodskappe is eg en werklik komend van Hom, Hy het dit aan my bevestig deur die aanraking van Sy Lig. Ek kan jou nie hiervan oortuig nie maar jy kan die waarheid vir jouself vasstel. Hierdie kosbare boodskappe van Hom is nou vrylik beskikbaar in Afrikaans by www.nuweopenbaring.co.za vir diegene wat opreg soek na die waarheid en die bevestiging daarvan.
 
Hier volg een van Jesus se boodskappe aan ons, gegee deur Bertha Dudde. My vriend, ek kan jou nie oortuig nie, maar as jy hierdie lees met 'n hart wat smag na die waarheid en verlossing, 'n hart wat uiteindelik uit die onsekerheid en twyfel wil breek, hoor dan Jesus se stem as Hy direk met jou praat hieronder.  Dit is Hy. Ek sal met my lewe daarvoor instaan. Hy is die Een wat Self gekom het om vir jou en my te red deur vir ons die pad van liefde te baan en te wys. As jou hart bietjie liefde inhet, sal jy Hom herken en jy sal weet. As jy liefde kortkom, weet dat dit tot jou beskikking staan, in oorvloed, jy moet net self inklim daarin.
 
WAT WORD ONDER DOOP VERSTAAN? B.D. 6611- 1 Augustus 1956 
Boek 43, bl 16-18
 
U kan die groot barmhartigheid om die woord te ontvang, nie besef nie, - tog word elke vraag van u deur My beantwoord - en elke twyfel in u word verdryf, wanneer u usself maar tot My wend om duidelikheid. Weliswaar beantwoord Ek sulke vrae ook deur gedagtes, maar u is nie altyd seker daarvan of die gedagtes aan u, deur My gegee is nie - en dan word u vertwyfeling ook nie verdryf nie, terwyl die woord wat aan u van Bo af gestuur word, u gelukkig maak, sodra u 'n beroep op die barmhartigheid van die ontvangs van My woord maak.
 
Daar is soveel vrae wat u besighou en 'n gelowige bede tot My sou voldoende wees om u uitsluitsel te gee. Maar u rig baie selde so 'n bede tot My - u is dus ook nog nie bewus van die groot barmhartigheid wat u mag gebruik nie.
 
Elke mensesiel het 'n "deeglike reiniging" nodig, wat haar van alle afvalstowwe bevry, wat haar verfris en weer tot lewe bring, en wat haar bekwaam maak vir die arbeid wat die siel op aarde moet verrig. En elke mensesiel moet bereid wees om hierdie reiniging deur haarself uit te voer, of oor haar te laat gaan in die besef dat sy voorheen eers nie so was soos wat Ek haar wou gehad het nie, soos sy moes gewees het om My te kan nader en ewig by My te wees.  So 'n reinigingsbad moet egter nie suiwer uiterlik opgevat word nie. Dit is 'n daad wat hom innerlik moet afspeel, wat hoogstens daaraan uiterlik te herken is dat daar in die wese van 'n mens 'n verandering hom voltrek; wat hom egter ook die sekerheid gee dat hy hom uit 'n moeras omhoog gewerk het, om deur  'n verfrissende bad te gegaan het en nou volkome gereinig daaruit kom.
 
Water wat egter helder is en 'n verfrissende uitwerking het, kan geen lewelose water wees nie. Dit moet 'n vloeiende, lewende stroom wees, water wat die krag het om te reinig en weer tot lewe te bring. Die lewende water het u dus nodig. Weet u egter wat onder 'lewende water' verstaan moet word?
 
Weer nooi Ek u steeds om na die 'Bron' te gaan waaruit die lewende water stroom. Weer wil Ek dat u steeds die 'see van My liefde' ingaan, dat u daarin onderduik en dat u uself deur My Self laat doop met My woord. Alleen dit het die krag om 'n verandering in u te bewerkstellig. Dit reinig u siel en laat haar opnuut lewe. Die woord gee u eers die ware lewe.
 
Toe Ek dus vir My dissipels gesê het: 'Doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees', is daaronder niks anders te verstaan nie, as dat hulle My woord in My Naam aan die mense moes bring nie - die lewende water wat in My sy oorsprong het, dat hulle dus na die Bron moes gaan. Die Liefde Self - die Vader - bied dit aan u. Hy bied u dit, waardeur die diepste Wysheid - die Seun, te bereik is, wanneer u die woord in u ontplooi en daardeur die gees in u tot lewe wek, wat u die helderste insig skenk. U siel het dus My woord nodig; want dit het net so 'n uitwerking soos die van helder, natuurlike water op die liggaam, sodat sy versterk uit die bad kan stap, geskik vir elke taak wat dan van haar verlang word.
 
En so moes My volgelinge die water - My woord, aan alle mense bring. - In liefde moes hulle iets kosbaars aangebied word, omdat dit weer liefde in hulle ontsteek en so die gees in hulle tot lewe wek. Lewende water het egter sy oorsprong in My. Ek self is die Bron waaruit die lewende water stroom. En daarom moet elke mens afdaal in die 'bron van My Liefde', om goddelike Wysheid te ontvang en om dit ook te kan deursien deur die Gees.
 
Dit is 'die doop' wat elke mens moet ontvang om lid van die kerk van Christus te wees - die kerk wat Ek self op aarde gestig het. En daartoe is eerstens u vrye wil noodsaaklik, wat vry moet beslis om in die waterstroom van My liefde af te daal, My lewende woord aan te neem en daardeur die siel aan 'n reiniging te onderwerp wat My teenwoordigheid dan moontlik maak.
 
My woorde is altyd net geestelik te begryp, want nooit sal 'n uiterlike handeling die wesenlike innerlike omvorming, die loutering van die siel, tot stand bring nie. En daarom moet u mense steeds probeer om die geestelike betekenis van My woorde te deurgrond, wat vir u egter heeltemal duidelik sal word, wanneer u My self om duidelikheid vra. En wanneer u verlange daarna eg bedoel is, sal u nie anders kan as om dan korrek te dink nie.
 
Dan neem u ook egter My woord sonder weerstand aan, as dit deur My volgelinge aan u gebring word - en dan dompel u uself in "My goddelike liefdestroom" - dan ontvang u die ware doop. My liefde vervul u dan met My Gees en voer u binne in die waarheid. Liefde, Wysheid en Krag is nou ook deel van u siel, wat haar laat doop met die ' water van die lewe en van die liefde.'
AMEN"   
 
Hierdie aanspreking van Jesus deur sy profete is 'n skat van oneindige waarde vir ons. Soos wat jy nou hier lees, is een voet klaar in die water. Klim nou self in. Die gloed van Liefde voel sag en warm in die mensehart, en bied vreugde en vrede wat alle verstand te bowe gaan. 
Liefde
Ernst
 
prosper.ernst@icon.co.za
www.nuweopenbaring.co.za