Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 (Hoofstuk 94)

Aanhalings uit Jakob Lorber—Groot Johannes Evangelie Boek 9 - Hoofstuk 94

Die wederkoms van die Heer

94 Ek sê: "So dom is jou vraag nie, en jy het die volste reg om te vra wat jy nie weet nie; en Ek het natuurlik die reg om jou te antwoord op die manier wat Ek vir jou en vir die ander sinvol vind. Maar omdat jy dit nou reeds gevra het, sal Ek jou ook antwoord gee, dus luister!

[2] By My tweede wederkoms sal Ek nie weer êrens as `n kind uit `n vrou gebore word nie; want dié liggaam bly verheerlik, soos wat Ek as gees in ewigheid is en derhalwe het Ek nooit meer `n tweede liggaam nodig soos wat jy dit bedoel nie.

[3] Eerstens sal Ek onsigbaar kom in die wolke van die hemele, wat soveel wil sê as: Eers sal ek begin om die mense te benader deur waaragtige sieners, wyses en nuwe opgewekte profete, en in die tyd sal ook vroue profeteer en jongmanne helder drome hê, waardeur hulle My koms vir die mense sal verkondig, en vele sal daarna luister en hulle lewe verbeter; maar die wêreld sal hulle as waansinnige fanatikusse uitmaak en hulle nie glo nie, netsoos dit ook by die profete die geval was.

[4] So sal Ek ook van tyd tot tyd mense opwek aan wie Ek alles wat daar nou tydens My aanwesigheid is, gebeur en gespreek word, via hulle hart in die pen sal gee; wat dan slegs eenmaal geskryf sal word op `n spesiale vernuftige manier, wat die mense van die tyd goed sal ken, in die korte tyd van enkele weke en dae in vele duisende gelykluidende eksemplare vermenigvuldig en so onder die mense gebring kan word. En aangesien die mense in die tyd bykans algemeen die kuns van die lees en skryf sal beheers, sal hulle die nuwe boeke ook self kan lees en begryp.

[5] Met die manier van versprei sal My leer, wat weer nuut en rein vanuit die hemele gegee word, baie sneller en doeltreffender by alle mense op die hele aarde gebring kan word as nou deur boodskappers in My Naam van mond tot mond.

[6] As My leer op dié manier onder die mense gebring sal word, wat van goeie wil is, en `n lewende geloof sal hê, en minstens een derde deel van die mense dit sal verneem het, sal Ek ook hier en daar persoonlik en liggaamlik sigbaar (in die verheerlikte geestelike liggaam; sien vers 2) tot diegene kom wat My die meeste liefhet en die grootste verlange na My wederkoms en ook die volle en lewende geloof daarvoor sal hê.

[7] En Ek sal Self gemeentes uit hulle vorm, waarteen geen wêreldse mag meer verset en weerstand sal kan bied nie; want Ek sal hulle Leëraanvoerder, en hulle ewig onoorwinlike Held wees en alle dooie en blinde wêreldse mense oordeel. En so sal Ek die aarde van haar ou vuil reinig.

[8] Ten tye van die nuwe sieners en profete sal daar egter groot ellende en nood onder die mense wees, soos wat daar op hierdie aarde nog nooit gewees het nie; maar vanweë My uitverkorenes in die tyd, sal dit maar `n kort tyd duur, sodat hulle saligwording geen skade sal ly nie.

[9] Maar in die land, waar Ek nou al as `n misdadiger van die een dorp na die ander deur die Judeërs van die tempel agtervolg word en wat in die tyd deur duistere heidene vertrap word, sal Ek persoonlik nie weer soos eers optree, onderrig en die swakkes troos nie. Maar in die lande van `n ander wêrelddeel, wat nou deur heidene bewoon word, sal Ek `n nuwe ryk stig - `n ryk van vrede, van eendrag, van liefde en van voortdurende lewende geloof; vrees vir die dood van die liggaam sal nie meer bestaan onder die mense wat in My lig wandel nie en steeds in verbinding sal staan met die engele van die hemel en met hulle sal omgaan nie. - Hier het jy nou `n egte antwoord op jou vraag."

[10] Die skrifgeleerde sê: "Sal Asië, die ou wieg van die mense en van vele seëninge van God, dus nie meer die geluk hê om U by U wederkoms op hierdie aarde te sien of te hoor nie? Dit is werklik geen blye tyding vir dié wêrelddeel nie."

[11] Ek sê: "Die aarde behoort orals aan My, en Ek weet op welke plek My wederkoms die nuttigste sal wees vir die hele aarde! In die tyd sal die mense egter van die een einde van die aarde na die ander met mekaar in verbinding kan tree, en wel so vinnig soos wat `n bliksem uit `n wolk skiet; en deur gebruik te maak van die in vuur en water gebonde geeste sal die mense via ysterweë die grootste afstande op aarde ryend kan aflê, en wel sneller as die hewigste storm van die een einde van die aarde na die ander jaag, en die skepe sal met behulp van dieselfde kragte binne baie korter tyd oor die groot oseaan vaar as wat die Romeine van Rome nou na Egipte vaar. Dan sal die berig van My persoonlike wederkoms ook maklik binne `n baie kort tyd oor die hele aarde versprei kan word, en dus ook na Asië. 

[12] Maar dan is dit opnuut die vraag: Sal daardie berig by die blinde en dowe heidene van daardie wêrelddeel ook geloof vind?

[13] Ek dink en sê, dat dit waarskynlik eers die geval sal wees wanneer dit deur `n groot wêreldgerig gelouter sal word!

[14] Daar is `n groot land ver in die weste, wat aan alle kante deur die groot wêreldoseaan omspoel word en nêrens oor see verbinding het met die ou wêreld nie. Uitgaande van daardie land sal die mense eers groot dinge verneem, en dit sal ook in die weste van Europa opduik, en daaruit sal `n helder straal en wederstrale ontstaan. Die ligte van die hemele sal mekaar ontmoet, herken en mekaar ondersteun.

[15] Uit die ligte sal die son van die lewe hom ontwikkel, dus die nuwe, volmaakte Jerusalem, en in die son sal Ek weer op hierdie aarde kom. - En nou is dit meer as genoeg gewees oor wat daar later sal gebeur!" 

[16] Hierop kyk selfs My leerlinge heel verwonderd en sê onder mekaar: "So duidelik en uitvoerig het Hy nog nooit oor Sy toekomstige wederkoms gespreek nie! Gelukkig sal die mense wees wat in dié tyd daar sal lewe waar Hy weer met alle volheid van Sy barmhartigheid sal kom - maar ongelukkig diegene wat nie in Hom sal glo nie en miskien, netsoos die fariseërs, nou teen Hom sal opstaan en Hom om die lewe wil bring, hulle teen Hom verset en hulle heidendom wil beskerm. Want netsoos Hy al verskillende kere en op die Olyfberg deur tekens aan die hemel getoon het, sal Hy hulle dan as `n onverbiddelike regter tegemoet tree en hulle in die hel hulle loon gee."

[17] Ek sê: "Ja, ja, daarmee het julle nou die waarheid gespreek! En Ek sê vir julle: Waarlik, waarlik, hierdie sigbare hemel en hierdie aarde sal na die korrekte tydsverloop ook vergaan; maar die woorde wat Ek tot julle gespreek het, sal nie vergaan nie!"